NewsSchools

Concordia se leerders sing saam met Touch of Class

Touch of Class beplan om die land plat te toer en volgens hulle is daar ook ’n verrassing wat volgende jaar vir Boksburg wag.

’n Tikkie glans is verleen by Laerskool Concordia se bloedskenkdag deur die teenwoordigheid van die gewilde musiekgroep, Touch of Class.

Voortspruitend uit die bloedskenkprojek gaan nog ’n projek binnekort die lig sien.

Nadat Ruhan du Toit ’n besluit geneem het om Touch of Class te verlaat om ’n solo-loopbaan aan te pak, het Dusty Dixon by Deon van der Merwe aangesluit.

Met dié nuwe bloed wil die groep ’n nuwe weergawe van die liedjie, Die Land, oorspronklik gesing deur Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Bobby van Jaarsveld, Jay du Plessis en Ruhan, opneem.

Touch of Class was op soek na kinderstemme om die liedjie, wat onlangs die prys vir die liedjie van die jaar by die Aitsa-Afrikaanse musiektoekennings ontvang het, op hulle nuwe album op te neem.

Dusty Dixon, wat by Touch of Class aangesluit het nadat Ruhan du Toit die groep verlaat het, het vir groot opwinding gesorg toe hy saam met die leerders gesing het tydens die skool se bloedskenkdag.

Die Land is ook vroeër vanjaar in kontroversie gehul toe dit van die Ghoema-musiektoekennings se nominasielys verwyder is oor die sanger, Steve Hofmeyr, se betrokkenheid by die liedjie.

Hulle poging was redelik vrugteloos en Ronel Steenkamp, wat op Concordia se beheerliggaam dien, het uitkoms gebied met ’n uitmuntende voorstel om die skool se leerders se stemme te gebruik vir die opname.

Nadat die skool se stemme getoets is met die sang van George Ezra se Shotgun-liedjie en Dusty se nuwe komposisie, Stille Soldate, het die skool bewys dat hulle inderdaad die mas sal opkom om ’n sukses van die liedjie te maak.

Volgens Deon van der Merwe was dit vir hulle absolute verstommend hoe Concordia se leerders die liedjie in ’n kort tydperk geleer het.

“Die feit is dat Die Land maar net ’n liedjie is wat sê dat wie okal in Suid-Afrka bly, die land is joune. Dit gaan ongelooflik wees om ’n nuwe weergawe van die liedjie te doen waar die leerders die koorgedeelte gaan sing.

“Ons gaan ook ’n foto saam met hulle neem wat in die binnekant van ons CD-omslag gaan sit om hulle te bedank omdat hulle Afrikaanse musiek ondersteun,” verduidelik Van der Merwe.

“Ons wou graag kinders by die opname van Die Land betrek omdat hulle die toekoms is.

“Ek het selfs sangskole genader, maar niemand het regtig na vore gekom nie. Ronel van Concordia het toe met die voorstel gekom dat ons die skool se stemme moet gebruik vir Die Land.

“Ek het eers twee liedjies met hulle gedoen voor ek ’n finale besluit geneem het. Hulle het die liedjies met soveel oorgawe gesing dat ek dink Die Land gaan hoendervleismooi wees. Ons nuwe CD sal begin November beskikbaar wees.”

 

Related Articles

Back to top button