NewsSchools

Nog ’n bloedskenk rekord wink vir Concordia

Die spogskool doen ’n beroep op die gemeenskap om op 15 Oktober by Concordia se skoolsaal 7vm tot 7nm bloed te skenk.

Verteenwoordigers van die nasionale bloedbank en hulle gelukbringer, Blood Buddy, het vir ’n saal vol opgewonde Corries gesorg tydens hulle besoek aan Laerskool Concordia op 8 Oktober.

Concordia beoog om hulle eie rekord te breek vir die meeste eenhede bruikbare bloed wat binne ’n 12-uur tydperk geskenk word.

Die skool het verlede jaar ’n indrukwekkende 258 eenhede bloed ingesamel. Dit was nie net ’n nuwe rekord vir Boksburg nie, maar ook ’n nuwe rekord vir Suid-Afrika vir meeste eenhede ingesamel op een perseel.

LEES OOK: Video: Rekord van 258 eenhede bloed by Concordia op een dag ingesamel

Trude Gaarekoe van SANBS het aan die leerders verduidelik hoekom dit belangrik is om bloed te skenk.

“Dink aan al die babas in die hospitale wat bloed nodig het. Sommige kinders in die hospitale wil graag volgende jaar by julle in die skool aansluit, al wat hulle benodig is bloed.

“Daar is nie ’n plaasvervanger of fabriek vir menslike bloed nie. As die nasionale bloedbank moet ons seker maak dat ons 3 000 eenhede bloed per dag insamel. In ons land vind daar elke 39 sekondes ’n bloedoortapping plaas. Dit sluit mense in wat in ongelukke betrokke is, opersasies wat uitgevoer moet word en vroue wat pas geboorte geskenk het,” vertel Trude.

“Kom ons vat hande en maak seker dat ons lewens red. Verlede jaar het ons meer as 700 lewens gered en sonder twyfel gaan ons dit hierdie jaar 1 000 maak.

“Don’t be a zero, be a hero. It’s in your blood.

“Blood Buddy gaan ook partytjie hou saam met die wenklas.”

Ronel Steenkamp, Charel Blignaut (hoof), Pieter Lödder (hoofseun), Angie Strydom (hoofmeisie) en Trude Gaarekoe saam met die bloedbank se gelukbringer, Blood Buddy.

Daar sal ook ’n selfie-kompetisie gehou word waar die leerders ’n selfie saam met Blood Buddy neem en dit op sosiale media plaas.

Die gelukbringer het ook lekkers vir die leerders uitgedeel.

Ronel Steenkamp en van die organiseerders het ook die leerders aangemoedig om almal by die huis, behalwe die hond, te nooi om bloed te skenk.

“Al kan kinders eers op 16 bloed skenk is dit belangrik om die leerders vanaf ’n jong ouderdom die belangrikheid van bloed skenk te leer en hulle ook aan te moedig om hulle ouers te herinner om bloed te skenk,” vertel Steenkamp.

Wie mag skenk?

  • Jy moet tussen die ouderdom van 16 tot 75 wees.
  • Jy moet 50kg of meer weeg.
  • Jy moet drie tot vier uur voor jy bloed skenk ’n goeie maaltyd eet.
  • Swanger vroue mag nie bloed skenk nie.
  • Jou tattoes moet ouer as drie maande wees.
  • Sommige mense wat kroniese medikasie vir byvoorbeeld diabetes of hoë bloeddruk gebruik, mag bloed skenk en word aangemoedig om te gaan uitvind.
  • Jy mag eers sewe dae nadat jy jou laaste antibiotika vir byvoorbeeld griep gedrink het, bloed skenk.
  • Jy moet ’n gesonde leefstyl hê.

Volgens Trude is dit steeds die beste om die bloedbank te skakel of om ’n tak te gaan besoek vir meer inligting.

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button