NewsSchools

Kinders baat by Helpende Hand se skoenprojek

Ongeveer 45 pare nuwe skoolskoene, skoolkouse, serpe, handskoene en mussies is op 22 Augustus aan leerlinge van Laerskool Die President uitgedeel.

Solidariteit Helpende Hand Boksburg-tak poog steeds om ’n onmisbare verskil in die gemeenskap te maak.

Talle kinderharte is weer met hul jaarlikse skoenprojek bly gemaak.

’n Paar kinders wie se families tans deur die Boksburg-tak ondersteun word, het ook by die projek gebaat.

Die projek is van stapel gestuur om kaalvoetkinders se voete deur die koue dae warm te hou.

Solidariteit Helpende Hand is ’n nie-winsgewende organisasie wat veral betrokke is by behoeftige skole, ouetehuise, individuele gesinne en wit plakkerskampe.

Die organisasie se doelwit is om die kringloop van armoede te verbreek deur kinders opleiding te bied sodat hulle selfsorgende volwassenes met ’n roeping in die lewe kan wees.

“Die leerders was soos gewoonlik opgewonde oor die skoene wat aan hulle gegee is, ” het Alida Reed van Solidariteit Helpende Hand Boksburg-tak gesê.

“Ons is baie dankbaar vir almal wat die projek ondersteun het. Die Boksburg-tak is afhanklik van skenkings en sal nie sulke projekte kan aanpak sonder die hulp van die gemeenskap nie.”

Sy voeg by dat die publiek steeds welkom is om aan die skoenprojek te skenk.

“Die gemeenskap kan steeds skoene skenk wat in ’n goeie en bruikbare toestand is. Daar is talle behoeftiges en hoe meer mense bydrae, hoe meer kinders kan ons ondersteun. Ons wil ook behoeftige leerders in ander skole help.

“Ten spyte van die somer wat op ons voorstoep is, kan mense steeds items soos serpies en mussies skenk. Dit kan altyd vir volgende jaar gebruik word.”

Alida wil ook klem daarop plaas dat Helpende Hand behoeftiges help waar hul kan, ongeag hul ras.

Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak by Helpende Hand, kontak Alida op 082 228 3552 of Amanda Zeelie op 083 399 1688.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button