Local newsNews

Plaaslike TV-aanbieder se lewe nooit dieselfde na gru ongeluk wat talle lewens eis

Volgens die polisiewoordvoerder word ‘n saak van strafbaremanslag ondersoek. Hy het bygevoeg dat daar geen arrestasies gemaak is nie.

Nog nooit het die bekende  aanbieder van Drama-mammas op VIA,  Louw Breytenbach (30 )  soveel pyn en hartseer ervaar nie.

Breytenbach, van Boksburg en die eienaar van die Live Arts Little Theatre in die stad, het Woensdagaand in ‘n sleepwaentje van ‘n stilstaande taxi op die N3 hoofweg in Johannesburg vasgery.

‘n Man is opslag dood en vier mense is ernstig beseer na die botsing wat omstreeks 10.30nm tussen die London- en Modderfontein- afritte plaasgevind het.

“Ek het minute voor die botsing van lane verwissel, min wetend dat daar ‘n taxi sonder noodligte in die donkerte voor my staan,” vertel Louw.

“Vier mans het ‘n pap band van die sleepwaentjie geruil, terwyl die res van die passasiers aan die kant van die pad gewag het,” vertel ‘n emosionele Louw.

“Daar was geen waarskuwing nie. Toe ek weer sien, was dit te laat om remme aan te slaan en ek is in die waentjie vas. Ek het probeer, maar was niks wat ek kon doen om die ongeluk te verhoed nie.

“Honderde gedagtes maal al sedert die afgryslike ongeluk deur my kop oor wat ek kon gedoen het om die treurspel te verhoed. Dit is vir my baie erg.

“Ek verstaan dat dit ‘n ongeluk was en dat dit nie my skuld is nie, maar die skuldgevoel vreet my steeds op.”

Breytenbach was van Melrose Arch, waar hy saam met sy vriende gekuier het, in sy Mini Cooper op pad terug na sy huis in Boksburg toe die ongeluk gebeur het.

Die beseerdes is met ambulanse na hospitale in die nabye omgewing geneem.

Breytenbach is self hospitaal toe geneem vir X-strale en skanderings. Hy is wonderbaarlik nie beseer nie.

“Die Here was my genadig. Die dokter het aan my gesê dat ek gelukkig is om te lewe. Hy het gesien hoe my kar lyk,” sê Louw.

Volgens Louw het hy glad nie gedrink nie.

“Ek het nie my lippe aan drank gesit nie. Gelukkig het hulle my op die toneel getoets en bevind dat ek nie oor die limiet was nie.”

Louw vertel dat hy nooit weer dieselfde na die ongeluk gaan wees nie.

Hy wil mense aannmoedig om versigtig op die pad te wees en deel die volgende wenke met motoriste:

  • As jou kar probleme gee, trek jou kar in die noodlaan in.
  • Maak seker dat jy altyd ‘n waarskuwingsdriehoek by jou het.
  • Skakel jou noodligte in ‘n noodgeval aan.
  • Dra ‘n noodhulptassie saam met jou.

 

 

Related Articles

Back to top button