NewsSchools

Kyk video: Lu-Anél palm die toekennings in

Die Graad Ses leerling woon in Impala Park en woeker met haar talente. Hoewel sy nog net sowat 18 maande regtig op die verhoog is, het sy reeds groot hoogtes bereik

Jong ster Luané-Anél van Staden (11), ook bekend as Lu-Anél van Laerskool Westwood, bewys weer dat talent in Boksburg volop is.

Lu-Anél is ’n opkomende kunstenaar en al is sy nog baie jonk sukkel sy glad nie om kers vas te hou by ander kunstenaars nie.

Sy het vanjaar op 8 April by Talent Africa onder die top 10 sangers in Suid-Afrika geplaas en dus nasionale kleure verwerf.

Sy het ook planne om volgende jaar saam met die Suid-Afrikaanse span in New York deelneem aan America’s Got Talent en Talent America.

By die Music Legends Championships in Augustus wen Lu-Anél al 12 kategorië waaraan sy deelgeneem het in haar ouderdomsgroep. Sy het in totaal 16 medaljes ingepalm.

In Mei vanjaar het sy die Oosrandse Kunstefees se junior sangafdeling gewen. Sy het ook aan die finaal van Arnold Classic Africa Got Talent deelgeneem, en wen haar ouderdomsgroep by Kids With Talent SA se streeksuitdunne waar sy ’n goue kaartjie ontvang en dus kwalifiseer vir die finaal in September.

Lu-Anél het vanjaar ook ’n Supervoice-kompetisie in Benoni gewen, asook twee Spur Singing Star Competition uitdunrondtes en nou sien sy baie uit na die groot finaal op 27 September.

Sy kan ook op Coastal Radio SA se Top 20 en Springbok IRC se Top 20, in die dertiende plek, gehoor word.

Lu-Anél het ook ’n goeie hart en is betrokke by fondsinsamelings en liefdadigheidsfunksies vir minderbevoorregtes.

Sy kan ook spog dat sy al die verhoog met groot name in die musiekbedryf soos soos Lance James, Barbara Ray, Tommy Dell en Sonja Herholdt gedeel het.

“Sy is gereeld op die verhoog by feeste soos AfriSaam,” het haar ma en agent, Anina van Staden, gesê.

Die jong ster kyk op na bekende kunstenaar Jo Black.

“Hy het by ons skool kom sing. Hy inspireer baie jong mense om hul drome uit te leef,” se Lu-Anél.

“Ek wil beslis ’n sanger wees as ek groot is. Ek wil graag kinders met sang inspireer.”

Lu-Anél se ouers is haar grootste ondersteuners en haar pa, Lucas, beskryf musiek as sielskos.

Luané-Anél is ’n vriendelike 11-jarige met hope talent.

“Ons familie is baie lief vir musiek, al ons kinders sing,” het dié pa gesê.

Wanneer Lu-Anél nie op die verhoog of by die skool is nie, hou sy baie van krieket en rugby speel.

Anina het gesê hulle werk nog aan hul dogter se eerste album.

“Dit is maar duur om ’n album van stapel te stuur en tussen skoolwerk is tyd ook maar beperk, maar daar is beslis planne vir so ’n album in die nabye toekoms en beslis met oorspronklike snitte.”

Lu-Anél wil die jongmense in haar gemeenskap aanmoedig om hul drome na te streef.

“Moet nooit opgee nie, iemand sal jou raaksien.”

Vir meer inligting besoek haar Facebookblad of kontak Anina by 083 755 7924.

LEES OOK:

Watch: Vivarte Arts Festival unearths artistic talent 

Follow us:

Twitter

Instagram

Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Benoni City Times, Springs Advertiser, Brakpan Herald, African Reporter and Kathorus Mail.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button