Local newsNews

Klippoortjie inwoner blaas uit 101 kersies

Sy glo daar is geen spesiale resep of geheim vir ’n lang lewe nie.

 

Tannie Johanna du Plooy, van Klippoortjie, het gister (15 Januarie) haar 101ste verjaarsdag gevier.

Sy is in Kuruman, in die Noord-Kaap, op 15 Januarie 1917 gebore en het, gedurende twee huwelike, ses kinders in die lewe gebring – drie dogters en drie seuns.

Drie jaar gelede, toe sy in ’n tuiste vir bejaardes in Winburg in die Noord-Kaap gewoon het, het Johanna haar heup beseer en is van toe af in ’n rolstoel, en het na haar seun, Gert Becker, in Boksburg toe getrek.

“Ek voel nog soos ’n kind,” het tannie Johanna gesê.

“Dit is maar net die oë wat nie meer so goed kan sien nie, maar anders is ek fiks en gesond.”

Gert vertel dat by ’n familie-saamtrek vir sy ma se 100ste verjaarsdag verlede jaar, het hulle bepaal die familie, met kinders, kleinkinders, agterkleinkinders en agter-agterkleinkinders, is omtrent 86 in totaal.

“Die is maar net wat ons kon tel. Ons is seker daar is nog familielede en dat ons seker oor die 90 is,” het hy gesê.

Tannie Johanna kan nog fluks gedigte in Engels en Afrikaans, wat sy geleer het toe sy in Graad Twee op skool was, opsê, en mis nooit die nuusberigte en preekprogramme op haar radio nie.

Sy is baie sentimenteel en het tot ’n sakdoek by haar gehad wat haar een dogter by ’n kêrel gekry het toe sy 14 jaar oud was.

“Sy wou die sakdoek nie hê nie, so ek het hom nog al die jare by my gehou,” vertel tannie Johanna.

“Dit is net met God se genade dat ek nog lewe. Daar is nie ’n spesiale resep of geheim vir ’n lang lewe nie. Lewe maar gesond en vertrou in die Here,” vertel sy.

Die familie het op Sondag ’n groot viering ter ere van tannie Johanna se uitsonderlike lewensmylpaal gehou.

Related Articles

Back to top button