Local newsNews

Dogter (10) sny 30cm van hare vir kankerpatiënte

Op slegs 10-jarige ouderdom het Ané Holtzhausen ’n onbaatsugtige daad gedoen en ongeveer 30cm van haar dik hare afgesny en aan die Cancer Association of South Africa (Cansa) geskenk.

Ané woon saam haar ouers in Bardene en is ’n Graad Vyf leerling by Laerskool Concordia.

Haar ma, Tersia, vertel toe hul as gesin die fliek Miracles from Heaven gekyk het, het Ané ’n kanker dogtertjie gesien wat nie hare het nie.

“Sy het ons daaroor uitgevra en ons het haar verduidelik wat gebeur en hoekom haar hare uitgeval het,” sê Tersia.

Tienjarige Ané Holthausen van Bardene het ongeveer 30cm van haar hare afgesny en aan Cansa geskenk.

“Sy was so geraak deur die storie en ons het haar vertel dat mense hulle hare kan skenk om vir ’n kankerlyer ’n pruik daarvan te maak.

“Hulle het dan ook weer haartjies en is nie meer so selfbewus nie.”

Ané het net daar besluit om haar hare te skenk sodra dit lank genoeg is.

Dit is nou ongeveer ’n jaar later en haar hare was uiteindelik lank genoeg om te kan skenk.

Sy het die groot stap op 25 Mei geneem en haar haarkapper, Melissa van Greunen, het haar hare afgesny vir ’n goeie saak.

Ané het die volgende dag haar hare aan Cansa geskenk.

Ané lyk pragtig met haar nuwe haarstyl.

Indien dit moontlik is, sal Ané graag wil hê dat die hare na ’n dogtertjie moet gaan.

Volgens Tersia is haar hare baie dik, dus is die moontlikheid daar om dalk twee pruike te kan maak in plaas van net een.

“Ons glo haar onbaatsugtigheid op tienjarige ouderdom gaan haar nog ver bring met omgee vir ander mense,” sê Tersia.

Related Articles

Back to top button