Local newsNews

Tuinmaak bly maar net altyd lekker

In met die oud en uit met die nuut.

”Ou goed” is nou die tendens as dit kom by tuinmaak. Hierdie wenk kom van JJ van Rensburg, ’n tuinboukundige by Garden World.

Van Rensburg het onlangs by Summer Place, met die Sarie-dames idees gedeel vir waterwyse tuine, potte, hangmatjies en vele meer.

Hy is veral bekend voor die TV-kameras, in programme soos Tuine en Tossels, Ontbytsake, Top Billing en 50/50, om net ’n paar te noem.

Van Rensburg het ook al sy eie boek geskryf: Elke seisoen is jou beste seisoen.

Volgens hom is dit ’n voorreg om tuin te maak, maar hy meen mense speel egter nie genoeg in hul tuin nie.

Hy erken wel dat tuinmaak verwarrend is en dat dit belangrik is om die verskillende vereistes van die plante goed te ken (soos wanneer en waar om te plant).

“Sommige plante kort semi-son of skadu, ander hou van halfdag son, en dan is daar plante wat gefiltreerde son verkies,” het van Rensburg gesê.

“Daar is plante wat hou van baie water, of min maar gereelde water, en party plante hou van nie te veel water nie, tog moet hulle nie uitdroog nie.”

’n Ander wenk is om jou tuin vooruit te beplan vir die opkomende seisoen.

Van Rensburg se persoonlike voorkeur is ’n wintertuin, omdat die kleure meer intens is.

Hy reken elke tuin kort ‘n fokuspunt, soos ’n spieël, wat ‘n nuwe atmosfeer kan skep.

Hy sê dat tuinbankies ook nie net op die gras hoort nie, maar ook in die bedding.

Antieke meubels in die tuin maak dit ook interessant.

“Onthou, maak tuinmaak lekker en plant jou plante byvoorbeeld sommer in skoene en snoei jou struike in beeldjies. Dus gee jy jou tuin persoonlike karakter,” het hy vertel.

Nog ’n wenk is om jou tuin so prakties moontlik te maak.

“Maak jou eie steggies en saai jou eie saailinge; dit is so verfrissend wanneer dit ontkiem. Ruil plante ook onder mekaar uit,” raai hy aan.

Volgens hom is daar maniere om water – en dus geld – te spaar.

“In plaas daarvan om water te gebruik, gebruik palmveen. Dit kom voor in die vorm van ’n saamgepersde baksteen wat in water geweek word en sal uitswel tot sowat vyf keer sy oorspronklike grootte.

“Water gel, wat in potplande gebruik word, is ook ’n opsie.”

Van Rensburg stel voor dat jy meerjarige plante – byvoorbeeld daglelies en baardirisse – in jou tuin gebruik, omdat dit meer as een keer tydens dit se lewe kan bloei, en langer as twee jaar leef.

Volgens hom moet ‘n mens met die konsep van herhaling speel om ’n tuin interessant te maak.

Idees vir groentetuine is om jou groente of kruie in 5lt water bottles, blikemmers (uitgestal in vensterbanke), halwe 2lt bottels, geverfdemotor -of trekkerbande en hooibale te plant.

Vertikale tuinmaak, sê van Rensburg, is ook gewild.

Hy het die volgende tuinmaak tendense gedeel:

* Dit is die grootste stokperdjie ter wêreld.

* Donker stamme en blare is die in-ding wêreldwyd.

* Groeiers en groothandelaars begin al hoe meer in plante belê wat goedkoop is, omdat dit lae onderhoud verg en hoë weerstand bied.

’n Ander interessante feit wat hy gedeel het is dat bye verminder, omdat hulle verdwaal weens selfoonseine wat hulle van hul spoor af neem.

Soos ons almal reeds weet, dra plante ongelukkig ook siektes.

Volgens Van Rensburg kom hierdie siektes van slakke, stegies en, onder andere, koperdrade wat rondom potte gebuig is.

’n Maklike wenk om van slakke ontslae te raak, is om vasalien aan die buitekant van die pot te smeer; só gly die slak af en kan hy nie by jou plante uitkom nie.

Tweeslag grassnyers is ook reeds op sekere plekke in die wêreld verban, weens die besoedeling wat die gasse veroorsaak.

’n Laaste paar nuttige wenke:

* Om jou tuin in die aand nat te maak is die verkeerdste ding ooit, want dit is wanneer swamme en siektes groei. Die beste tyd is in die vroeë oggendure (ongeveer 4vm).

* Moenie jou plante elke dag natgooi nie. Die plant het dan geen rede om wortels te ontwikkel nie, omdat hy gewoond is aan baie water.

* Moenie jou plante met Sunlight water spuit nie, aangesien dit plante kwesbaar maak.

Related Articles

Back to top button