Editor's choiceLocal newsNews

Kongolese bedreig glo eienaars en agente

’n Huisagent is raadop oor Kongolese wat hulself glo gerieflik, tog sonder toestemming, in ’n aantal gelikwideerde Eveleigh Estate-eenhede, in Edgarweg, gehuisves het.

Die agent meen sy is al in die gesig gespoeg en het al onder talle dreigemente deurgeloop.

Hierdie spesifieke huisagent, wat om veiligheidsredes anoniem wil bly, verhuur ’n aantal eenhede in hierdie kompleks namens die wettige eienaars uit.

Eveleigh Estate bestaan uit 246 eenhede, waarvan 65 gelikwideer is.

Volgens dié agent, is ongeveer 45 eenhede sedert Oktober, verlede jaar, eers deur die Kongolese in besit geneem.

In sommige eenhede het selfs meer as een familie hulself tuis gemaak.

“Hulle het die deure oopgebreek en ingetrek sonder toestemming,” het die agent gesê.

“Hierdie onwettige inwoners betaal ook nie vir elektrisiteit of water nie, want die voorafbetaalde meters in die eenhede is omseil.”

Sy meen die Kongolese het onlangs ook begin om die eenhede van wettige eienaars te kaap, om hulle onder mekaar uit te verhuur.

Een van die eienaars, wie se eenheid in die kompleks ook deur die Kongolese beset is, het die Boksburg-Noord SAPD se hulp ingeroep. Hy wil ook graag anoniem bly.

“Dit is krimineel – jy kan nie iemand se eiendom sonder toestemming of sonder ‘n wettige rede oorneem nie,” het hy gesê.

Hy het die polisie oor die saak genader, maar is ingelig dat dit ’n siviele aangeleentheid is, en nie krimineel van aard nie.

Dié inwoner verstaan dat, blykbaar, as eiendom vir 48-uur leeg staan en iemand anders in daardie tydperk by die eiendom intrek, behoort dit dan aan hulle.

“Dus mag die wettige eienaar nie weer in die eiendom bly nie – nie eers om sy besittings te kry nie,” het die eienaar gesê.

“Jy sal jou eienaarskap deur die Hooggeregshof moet bevestig om ’n uitsettingsbevel te kry.

“Dit kan glo langer as ’n jaar neem om te bewerkstellig en regskostes kan tot R30 000 beloop.”

Hy sê dat, intussentyd, moet eienaars van die eenhede steeds maandeliks heffingskostes betaal, want anders gaan die bank aksie teen hulle neem.

Die water- en elektrisiteitsverbruik is ook op die eienaars se onkoste.

“Ons betaal, maar kry geen inkomste nie; dit is ’n massiewe probleem,” het die eienaar gesê.

Die afgelope vyf maande het die eienaar sowat R20 000 verloor weens nie-betaalde verhuurders. Die kompleks verloor glo sowat R202 500 per maand uit die 45 eenhede wat onwettig beset is.

Hy het al by die Suid-Afrikaanse Inkomste Diens aangeklop vir hulp maar, volgens die eienaar, word eers ‘n saaknommer verlang.

Hierdie spesifieke eienaar is al op twee geleenthede by sy eenheid deur die Kongolese oorval.

Volgens die agent is hulle hande oor die saak afgekap.

“Ons (die eienaars en agente) kan nie eers by Eveleigh Estate inkom nie,” het sy gesê.

Toe sy onlangs saam met ’n eienaar by die kompleks ingaan, moes sy ’n kappie en ’n sonbril opsit, sodat die Kongolese haar nie kon herken nie.

Die eienaar moes saam met een van die kompleks-wagte na sy eenheid gegaan.

Hulle het die huisagent aangeraai om eerder op die agterste sitplek van die voertuig te gaan lê, want die Kongolese herken haar.

“Ek was doodbang gewees toe ek in die voertuig gelê het – jy voel verskriklik benoud,” het die agent gesê.

“Dit is ’n verskriklike gevoel dat jy bedreig word in jou eie land waar jy ’n Suid-Afrikaanse burger is, terwyl iemand met ’n paspoort inkom en vir jou vertel hoe dinge móét en gáán gebeur.”

Volgens die anonieme eienaar, met wie die onderhoud gevoer is, ken die Kongolese hom ook nou al en durf hy nie meer voet op die perseel sit nie.

Boksburg-Noord SAPS woordvoerder, Luit Juanita Coetzer, het bevestig dat die huisagente ‘n hofsaak aanhangig moet maak om ‘n uitsettingsbevel te bekom.- @IschkeBoksburg

Lees ook opvolg artikels:

Eveleigh Estate se Kongolese-inwoners stel hul mening

Eienaar byna Waldorf-eenheid kwyt

Eveleigh Estate sukkel glo met prostitusie, finansiële probleme

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button