EntertainmentLifestyle

Stem vir ‘Agter die boereworsgordyn’ in Afri-Visie-kompetisie

Nico de Beer se Agter die Boereworsgordyn-musiekvideo is onder die Top 26 van die Afri-Visie Skryf ’n Treffer-kompetisie en benodig jou stem!

De Beer het die idee van hierdie lied gekry toe iemand hom eendag vra waar hy woon.

“Toe ek sê ek is van Boksburg, het die persoon geantwoord: ‘Oh you’re from behind the boerewors curtain’,” het De Beer gesê.

“Ek het toe nog nooit daarvan gehoor nie; ek het dit vertaal in Afrikaans en het oppad huistoe alreeds meeste van die lirieke in my kop geskryf.

“Inspirasie kom partykeer van die snaakste plekke!”

De Beer woon in Beyers Park, maar is oorspronklik van die diamant stad, Kimberley.

Op die ouderdom van vyf het hy saam met sy gesin Boksburg toe getrek.

Die 29-jarige is ’n voltydse musikant en het sy eie musiekskool, wat werk verskaf aan 13 ander musikante.

“Ek is baie passievol oor wat ek doen en glo dat ek mense se lewens verryk deur hulle musiek te leer.”

Die Afri-Visie-kompetisie is geskep om die volgende groot Afrikaanse treffers te soek. Ongeveer 1 575 liedjies is ingeskryf, waarvan De Beer s’n een van die finaliste is.

Al die finaliste het reeds musiekvideo- en liedjieopnames ontvang.

Die kompetisie word tans op DSTV se Kyknet kanaal uitgesaai, waar die Top 26 tans om stemme meeding, om sodoende na die Top 10 deur te dring.

Tot dusver, sê De Beer, is die kompetisie baie verrykend en dit het hom die geleentheid gegee om met top mense in die bedryf te werk.

Hy het voorheen vir hierdie kompetisie ingeskryf, maar het nie eers deurgedring na die uitdunne nie.

“Ek het verlede jaar weer ingeskryf, aangesien ek gevoel het dat ek ‘n sukses van my musiektalente kan maak,” het hy gesê.

De Beer dink sy lied, Agter die boereworsgordyn, staan uit bo die ander, omdat dit heeltemal anders is as enige van die ander liedjies op die mark.

“Ek hou daarvan om aan my musiek te dinkas ’n totale nuwe genre, genaamd Khaki Punk; dit het invloede van punk rock, classic rock, pop, country en selfs African musiek,” het hy verduidelik.

Vir De Beer beteken die liedjie net om trots te wees oor jou oorsprong en waar jy vandaan kom.

“Ek het dit ook maar baie tong in die kies gemaak, omdat baie mense neerkyk op die Oos-Rand,” het hy vertel.

”Dus het ons die video ook aspris bietjie common gemaak, om die stereotipes oor die Oos-Rand in die gesig te vat.”

Nico de Beer se Agter die Boereworsgordyn-musiekvideo is onder die Top 26 van die Afri-Visie Skryf ’n Treffer-kompetisie en benodig jou stem!

Die algehele wenner word bepaal deur die hoeveelheid stemme wat die lied verwerf. Die lied wat die meeste stemme verwerf, is natuurlik die wenner.

Die laasste dag om te stem is 28 April. Die Top 10 word ook hierdie dag op Kwêla aangekondig.

Die Top 10 uitdunne vind op 3 Mei plaas, in Kaapstad, waar daar ’n lewendige uitsending gaan wees om die wenner aan te kondig.

Die wenner stap huis toe met niks minder nie as R250 000.

Stem vir de Beer deur V18 na 33691 te SMS. SMS’e kos R1.50. – @IschkeBoksburg

 

Related Articles

Back to top button