Local newsNews

Brawe Pa vang baba

Toe Angelique Meyer en haar man, Rudi, Januarie uitvind hulle is swanger, was hulle baie opgewonde oor die nuwe baba wat oppad is.

Hulle het weer ’n tuis geboorte beplan met hul tweede baba, want vir hulle is dit soveel geriefliker en persoonlik, met die hulp van ’n vroedvrou.

Min het hulle geweet watter opwindende en onvergeetlike gebeurtenis op hulle wag.

Op 20 weke het Angelique en Rudi die goeie nuus gekry dat hulle ’n baba seuntjie verwag. Selfs hul dogtertjie, Amoré (4), was uit haar vel toe sy hoor sy gaan ’n boetie kry.

Angelique se verwagte datum was 5 Oktober, maar omdat hy volgens die skandering so groot baba was, het sy haar seuntjie al vanaf middel September verwag.

Teen einde September was daar nog niks en Angelique en haar man moes maar verder wag vir die groot dag!

Die oggend van 6 Oktober word Angelique wakker met krampe op haar maag, maar haar nie daaraan gesteur nie – sy het gedink dit is Braxton Hicks pyne.

Dit was nie lank nie, toe is die krampe in elkgeval weg.

Angelique het ongeveer drieuur die middag met die vroedvrou gesels en sy het aan haar gesê dat die krampe moontlik die eerste fase van die die geboorte proses is.

Teen so 7nm het Angelique vir haar man gesê om water in die geboorte bad te tap en die vroedvrou in kennis te stel sy moet kom, want die pyne het te erg geraak.

Tien minute later sê Angelique vir haar man dat boetie is oppad. Die vroedvrou was nog nie in sig nie.

“Rudi het gelag en sê nogal ‘ag nee man dis nou net die begin’. ‘n Paar minute later sê ek weer vir hom ‘boetie is oppad’. Ek het by die spaarbadkamer se wasbak gestaan en my gesig afgespoel en toe hy omdraai om te loop, voel ek boetie wou definitief nou die lig sien.

“Ek skreeu vir hom ‘kom help boetie is hier’.”

Haar man was net betyds en moes boetie self vang.

“Ek het geweldig gestres, want na die eerste druk besef ek Vian (boetie) is oppad uit en daar is niks wat hom gaan keer nie!” sê Angelique.

“Ek was bekommered hoe gaan ons hom laat asem haal – dokters piets hulle mos op die boud of iets.

“Soveel dinge het deur my gedagtes geflits, maar alles het natuurlik gebeur – sekondes na hy gebore is het hy begin skreeu en my man het die situasie so hanteer asof hy elke dag babas vang.”

Daarna het Rudi vir Vian in ’n handdoek toegedraai en hom vir Angelique gegee, asof niks vreemd gebeur het nie. Teen daardie tyd het die vroedvrou al by die huis aangekom en oorgeneem.

En so is Vian Levey Meyer, een, twee, drie, gebore om 7.20nm met ’n gewig van 3.74kg en 56cm lank – perdfris en gesond! – @IschkeBoksburg

Related Articles

Back to top button