Local newsNews

Ontbytsake kuier in Boksburg

Opwindende dinge is aan die gebeur!

Ontbytsake is tans besig om ’n positiewe kuier-program oor Boksburg saam te stel en sal op Saterdag, 2 Augustus, op Kyknet, DSTV kanaal 144, uitgesaai word.

Die Ontbytsake-span was gedurende die week van 7 Julie druk besig om jou dorp, Boksburg, af te neem en die Boksburg Advertiser het agter die skerms gaan inloer om te kyk waarmee hulle besig is en ook om ’n bietjie meer uit te vind.

“Die doel van hierdie uitsending is om die omgewing positief en op ’n verantwoordelike wyse aan Suider Afrika voor te stel, deur ’n kwaliteit en hoë profiel produksie daar te stel wat nie gemis moet word nie,” sê senior bemarker van Ontbytsake, Pieter de Waal.

Die uitsending sal fokus op die korporatiewe- en nywerheidsbedrywighede van Boksburg, terwyl die diversiteit, toerisme aantreklikhede, gekiedenis, ekonomie en aktiewe programme ook deel sal vorm van hierdie unieke program.

“Ons gaan haal Boksburg in 1880 uit, waar alles begin het, tot waar Boksburg vandag kan spog met vele bekendes wat nasionaal en internasionaal ’n invloed kon hê op hul onderskeie velde,” sê De Waal.

Dit is egter nie die eerste keer dat Ontbytsake in Boksburg kuier nie.

“Vanweë ons sterk kyker-mark in Ekurhuleni, waarvan Boksburg baie sentraal is, poog ons om dit een van ons meer gereelde kuierplekke te maak,” sê De Waal.

Hy kry ook gereeld navrae van ondernemings in die Boksburg-omgewing oor blootstelling met Ontbytsake.

Boksburg is ryk aan ’n magdom uniek- en interessanthede waarna kykers, veral Boksburg inwoners, kan uitsien.

Groot geskiedenismakers het bande gehad met Boksburg en dit was sedert sy ontstaan sekerlik, volgens De Waal, een van die mees dinamiese ekonomiese- en nywerheidsgebiede in Suid-Afrika.

“Dit is ook al gesê dat indien die Boksburg-omgewing se ekonomie uit die Suid-Afrikaanse ekonomie verwyder word, dit ’n gevoelige knou sal wees waarvan die herstel baie moeilik sal wees,” vertel De Waal.

Die program sal bestaan uit opwindende inhoud.

Getrou aan die aard van Ontbytsake, fokus dit op sake van die klein en medium ondernemings en verpak hulle interessant en toepaslik vir hul teikenmark.

“Ons gaan by ’n paar ondernemings inloer en kyk hoe dit agter die skerms lyk, maar ons gaan nie die groot nywerheidsreuse agterweë laat nie,” sê de Waal.

As deel van die program beplan Ontbytsake ook ’n drie-minute onderhoud met iemand van Boksburg om informeel in die ateljee te kan gesels oor hierdie omgewing.

Hierdie geleentheid is aan die Advertiser se redakteur, Riaan Engelbrecht, gegee.

Engelbrecht is al 19 jaar deel van die Caxton maatskappy en beklee al ongeveer sewe jaar die posisie as redakteur van hierdie koerant.

Onbytsake se kuierprogram sal tussen 7.30vm en 9vm uitgesaai word, asook op Sondag, 3 Augustus, tussen 7.30vm en 9vm.

Daarna sal dit op Sakefokus, die daaropvolgende Dinsdag- en Donderdag, tussen 1nm en 2nm, uitgesaai word.

* Ontbytsake se sukses word bewys deur die 11 jaar wat dit nou al deel is van Kyknet.

Dit maak Ontbytsake een van die programme wat die langste al uitsaai op hierdie kanaal met die blou stoel.

Ontbytsake word ook tans op Kyknet se nuwe susterskanaal, Kyknet en Kie, uitgesaai. Ontbytsake het reeds in Mei 2003 regstreeks begin uitsaai.

Ontbytsake se vryskut kameraman, Sean du Preez, en sy assistent, Sian Mylroie, was gedurende die week van 7 Julie druk besig om Boksburg af te neem.
Ontbytsake se vryskut kameraman, Sean du Preez, en sy assistent, Sian Mylroie, was gedurende die week van 7 Julie druk besig om Boksburg af te neem.

Dawie Roodt gesels oor ekonomiese sake en bespreek finansies met ’n gas of twee, terwyl Jan Harm die kyker inlig oor die weer, sport en landbousake.

Die talentvolle Eloise Cupido is mede aanbieder van die program en die kleurvolle sjef, Seline van der Wat, sorg vir besonderse disse.

Geen Ontbytsake uitsending sal ooit volledig wees sonder indiepte gesprekke met ’n bekende kunstenaar, akademikus, sakeman, sanger of sportheld nie. – @IschkeBoksburg

Direkteur van Botha en Deysel Motors, Pierre van den Bergh, kyk na wat Sean du Preez afgeneem het.
Direkteur van Botha en Deysel Motors, Pierre van den Bergh, kyk na wat Sean du Preez afgeneem het.

Related Articles

Back to top button