Jan Blohm se nuwe album gryp die verbeelding aan

Met sy nuutste enkelsnit, Nonnie, val ’n volgende deel van sy konsep-album legkaart in plek.

Daar is min musikante wat dit regkry om met die hart te praat soos Jan Blohm.

In 2020 het hy ’n konsep-album vrygestel, met die naam Jenny, waarmee hy graag die verhaal wou vertel van twee tieners wat in die 1980’s in die klein konserwatiewe spoorwegdorpie, De Aar, woon. Sedertdien geniet bewonderaars om te hoor hoe dié storie ontvou.

Met sy nuutste enkelsnit, Nonnie, val ’n volgende deel van hierdie interessante legkaart in plek.

“Nonnie is wat Jenny se ouers haar genoem het en vertel nog ’n stukkie van haar storie. Dit is nog ’n liedjie wat die jongman oorkant die pad vir haar skryf wanneer hy na haar verlang,” het Jan verduidelik oor dié liedjie wat deur hom en John Masser vervaardig is en waarvan die produksie deur Vonk Musiek behartig is.

LEES OOK: Rudi Claase se loopbaan gaan steeds van krag tot krag

Volgens hom is die boodskap agter die vierde vrystelling vanaf sy album dat ’n mens moet vashou aan daai gevoel van eerste liefde.

“Ek voel dat ’n mens altyd kan teruggaan na daardie gevoelens toe en dat dit net vrees vir seerkry is wat jou daarvan weerhou om met die onskuld van ’n kind na liefde te kyk.”

Nonnie volg in die voetspore van Jenny, Ou Karoo en Levi Jeans wat almal bo-aan die trefferparades gekuier het en steeds oor die radio gehoor kan word.

Jan draai reeds die Afrikaanse rockwêreld op sy kop sedert hy in 2004 sy debuut gemaak het met sy album, Melkstraat Confessions, en hy het nog geensins opgehou om ’n omwenteling in die musiekbedryf te veroorsaak nie.

Met Nonnie verstewig hy weereens sy plek in plaaslike musiekharte.

Volg Jan op Facebook (https://www.facebook.com/janblohmfanpage/), Instagram (@janblohm2020) of Twitter (@JanBlohm).

LEES OOK: Plaaslike musikant kraai koning by Afri-Indie musiektoekennings

   

 
Exit mobile version