Passievolle K9-lid ter ruste gelê

Insp Juan Strauss, lid van die honde-eenheid van die Ekurhuleni Metro Polisie is gister (Donderdag) ter ruste gelê.

Insp Juan Strauss (43) is Sondagaand ongeveer 11nm oorlede in die Life Dalview Hospitaal nadat hy vermoedelik ‘n asma-aanval by sy huis in Brakpan-Noord gehad het. Strauss, wat altyd met sy hond aan sy sy  te sien was, het diep spore getrap in onder meer Benoni, Boksburg en Brakpan waar hy vir meer as 24 jaar lid van die Ekurhuleni Metro Polisie was. Sy enigste broer, Eugene (39) wat vir jare oorkant hom gewoon het, het Sondagaand verbete gepoog om sy bewustelose broer by te bring en was ook die persoon wat met hom na die Life Dalview Hospitaal gejaag het. “My broer het met ‘n vriendin gesels en sy het onraad vermoed toe sy hom nie weer kon kontak nie. Sy was bekommerd en het met ons kontak gemaak. Ek het sleutels vir sy huis en is oor die pad om te gaan kyk of alles reg is,” het Eugene vertel. Volgens hom was sy broer reeds bewusteloos toe hy by hom kom en het hy dadelik noodbehandeling toegepas voordat daar met hom na die hospitaal gehaas is. “Ons is net na 11nm in kennis gestel dat my broer se lewe nie gered kon word nie,” het Eugene vertel. Juan is in Boksburg gebore waar hy die eerste paar jaar van sy kinderjare deurgebring het, Sy gesin het later na Brakpan verhuis, waar hy ook skool gegaan en aan die Hoërskool Stoffberg gematrikuleer het.

Lees: Lid van honde-eenheid oorlede

Hy het direk na skool by die Ekurhuleni Metro Polisie aangesluit waar hy later ‘n lid van die honde-eenheid geword het. Hy en sy hond Kai, wat opgelei was om plofstof op te spoor, was onafskeidbaar. “My broer het ‘n groot passie gehad vir die werk wat hy gedoen het en uit die aard van die saak was hy baie lief vir honde en diere in die algemeen,” het Eugene vertel. Volgens Eugene was Juan ‘n asmalyer en het dié toestand ‘n groot impak op sy gesondheid gehad. “Hy het die afgelope drie jaar drie long operasies in Kaapstad ondergaan  in ‘n poging om sy gesondheidstoestand te verbeter,” het Eugene verduidelik. Juan was ook baie lief daarvoor om motorfiets te ry maar weens sy gesukkel met asma was dit ‘n stokperdjie wat hy nie meer beoefen het nie. Die vriendelike man, in sy uniform en met sy hond aan sy sy sal deur menige skoolkinders en inwoners van die dorp onthou word as iemand wat nooit gehuiwer het om ‘n geselsie aan te knoop nie. Hy het nie omgegee as kinders sy hond wou streel nie en hy het graag raad en advies met sy medemens gedeel. Juan was nie getroud nie en laat benewens sy broer ook sy pa,  Frikkie Strauss (69) agter.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Back to top button