Local sportSport

Met sy ‘wiele’ vlieg die Valke

Hy sal met sy nuwe graad meer na die tafel kan bring.

Ontmoet die Valke Rugby-unie se tegniese adviseur, Gerhard Swarts (25), ‘n kwadrupleeg van Benoni, wat van sy bors af verlam is en voltyds versorg word.

Vir hierdie jong man was rugby van kleinsaf ‘n passie en hy het altyd as nommer 12 uitgedraf, met ‘n droom om eendag die groen en goud oor sy kop te trek.

Dit was vir hom egter nie beskore nie.

In 2003, met ‘n Super 16-wedstryd tussen die o-15s van die Hoërskool Kanonkop, van Middelburg, en Dr Malan, van Meyerton, het hy nie geweet dit gaan die laaste keer wees dat hy op ‘n rugbyveld sou hardloop nie.

In die agste minuut het hy sy nek in ‘n losgemaal gebreek en is sedertdien aan ‘n rolstoel gekluister.

Maar sy droom het voortgeleef met die afrigting van rugbyspanne by sy skool, terwyl hy self nog ‘n leerling was.

Swarts het sy B-Ed graad en honneurs in rekreasie en sportbestuur in 2013 aan die Universiteit van Pretoria verwerf, waar hy en sy versorger in Kiaat gebly het.

Gedurende hierdie tyd het hy betrokke geraak by die tegniese afrigting van Harlequins in Pretoria, vir twee jaar by die Hoërskool Waterkloof se eerstespan, ‘n jaar by Tuks se Carltonbekerspan en ‘n jaar by Tuks se ligarugby.

Gedurende sy studentejare het hy rolstoelrugby vir Tuks en Noord-Gauteng gespeel.

Hy is in 2012 vir die SA oefenspan gekies, maar kon as gevolg van studiedruk nie volhou nie.

In 2012 en 2013 het hy manalleen die o-20 koshuisspan van Kiaat afgerig en hulle albei jare na ‘n oorwinning in die Steinhofliga gelei, die eerste keer in die geskiedenis van koshuisrugby op Tuks.

Sedert 2012 was hy vir twee jaar deeltyds betrokke by die Valke se tegniese analise en advisering, terwyl hy sy Honneurs by Tuks gedoen het.

Die unie het sy potensiaal raakgesien en hy is tans voltyds betrokke by hulle as tegniese adviseur.

Sy taak is om video-opnames van wedstryde te bestudeer, ontleed en aanbevelings te doen, asook om teenstanders se spelpatrone en swakpunte te ontleed, om sodoende die spelstrategie van die Valke te bepaal.

Swarts het gesê dat hy ook by die motivering van die spelers betrokke is en, hoewel hy nie self meer kan speel nie, is hy nou met sy wiele op die veld en tussen die spelers.

Hy is ook bevoorreg om ‘n bydrae met sy storie te kon lewer in die boek, “Inspiring Champions”, geskryf deur Henning Gericke, voormalige Springbok en Protea ”kopdokter”.

Ander bydraes het gekom van, onder andere, Zola Budd, Bismarck du Plessis, Ryk Neethling en Gert Smal.

Onder die opskrif, “Everyday Champion”, sluit Swarts sy bydrae af met die volgende: “…my road thus far has not been a tarred one, but potholes will not puncture my wheel. My wheelchair and I aim constantly for the poles and I challenge you to keep up with me.”

Swarts sê opgewonde dat hy groot drome het en weet dat hy nog ‘n baie groot bydrae in rugby gaan lewer, al is dit nou in sy rolstoel op en af van die rugbyveld.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button