Nuwe takbestuurder by Helpende Hand

Nelia leef nou haar passie deur uit te reik na diegene in nood.

Nelia du Plessis glo sy is ‘n Benoni inwoner in murg en been want sy is haar hele lewe woonagtig in die stad.

Dié voormalige huisvrou en ma van drie seuns, is onlangs aangestel as Benoni takbestuurder van Solidariteit Helpende Hand.

“Deur die jare het ek gelet hoeveel mense langs die pad staan, smeekend vir iets om te eet,” het Nelia gesê.

“Dit het my hart gebreek om die hongerte in hul oë te sien en ek het sodoende besluit om iets te doen.”

Vir jare het Nelia, uit haar eie sak, toebroodjies en kossakkies aan minderbevoorregtes voorsien, wat haar passie om aan liefdadigheidswerk deel te neem geprikkel het.

“Al drie my seuns woon oorsee en het my aangemoedig om my vrye tyd te spandeer deur om by gestruktureerde uitreikprojekte aan te sluit.

“Ek het by Solidariteit aangesluit en is summier aangestel in my huidige posisie.”

Nelia sal nou hand bysit by die organisasie se tweedehandse Ons Winkel, in Sesdelaan, Northmead.

“Die winkel vorm deel van ons fondsinsamelingsprojekte om ons uitreik projekte te befonds,” het sy gesê.

“Ons beoog om uit te reik na plaaslike skole om minderbevoorregte leerders daagliks van voedsame etes te voorsien asook om sorgpakkies aan bejaardes te gee.”

Nelia moedig inwoners asook skole aan om aan Solidariteit Oos-Rand se Ons Winkel Skolekompetisie deel te neem waartydens skenkings na die deelnemende skole of direk na die winkel geneem kan word.

Vir elke skenking sal die skenker ‘n koepon ontvang wat in die koeponhouer by die skool geplaas kan word. Die skool met die meeste koepons aan die einde van die jaar is die wenners.

Items soos klere, linne, kombuisware, meubels en elektriese toestelle is welkom en sal by die plaaslike winkel verkoop word.

Groter items sal op aanvraag afgehaal word.

Vir meer inligting of om afhaal van skenkings te reël, skakel Derick Geldenhuys op 073 227 0331.

Skole wat belangstel om deel te neem aan die kompetisie, kan Oos-Randse streekorganiseerder Mariolette Vorster op 078 523 2705 skakel of ‘n e-pos aan mariolette@helpendehand.co.za stuur.

LEES OOK: Skenk en wen vir jou skool

LEES OOK: Solidatiteit se welsynwinkel is nou oop in Northmead

   

Exit mobile version