Brentwoordpark leerder hoop ander sal pugs ondersteun

“Ek gaan dit volgende jaar weer doen en ek hoop ek versamel tonne blikkies”

Laerskool Brentwoodpark leerder Jeandré van der Walt (11) sien al vir baie maande die aanwysingsbord vir Pug Rescue SA op hul daaglikse roete skool toe.

Die foto van ‘n pug het hom gefasineer en hy het gepleit dat sy ma, Adriana, hom soontoe neem.

“Ons is diere liefhebbers en as ons kon, het ons ‘n plot vol aangenome brakkies gehad,” sê Adriana.

“Ons het Jeandré na een van die organisasie se maandelikse fondsinsamelingsdae geneem en hy was in sy element. Hy wou net die honde borsel en vertroetel.”

Jeandré van der Walt vertroetel een van die vierbeen inwoners van Pug Rescue SA tydens sy besoek aan die organisasie.

Kort daarna het Jeandré op ‘n video afgekom van bekende Afrikaanse sanger Corlea Botha, wat in 2015 ten bate van die organisasie opgetree het.

Hy wou met al sy mag iets doen om geld vir Pug Rescue in te samel en met leiding van sy ma het hy begin koeldrankblikkies bymekaar maak.

“Die hele familie het betrokke geraak, almal het blikkies begin opgaar en pappa stop selfs langs die pad om blikkies op te tel gedurende sy werksdag,” sê Adriana.

“Die laaste keer wat ons getel het was daar al 800 blikkies wat ek reeds plat getrap het,” sê Jeandré trots.

“Dit is 11 sakke vol! Ek hoop as ek al die blikkies kry wat my ouma en tannie ook bymekaar maak sal daar meer as 2 000 wees.”

Volgens Jeandré was die plat trap van die blikkies strawwe werk, maar vandat hy ‘n tafelgemonteerede pars gebruik word die werk sommer in ‘n japtrap gedoen.

Jeandré het pligsgetrou die blikkies plat getrap totdat hy ‘n pars gekry het.

Hy beoog om sy versameling aan die einde van November by ‘n plaaslike herwinningshandelaar in te handig ter vergoeding.

Die opbrengs van sy werk sal op 3 Desember aan Pug Rescue se Cheryl Gaw oorhandig word, gedurende die organisasie se Kersmark.

Jeandré hoop dat hy R5 000 sal verdien, maar mamma glo dit mag dalk net ‘n paar honderd rand wees.

“Ek wil hê die tannie moet die geld gebruik om die siek hondjies te help,” sê hy.

“Ek gaan weer blikkies versamel volgende jaar, hopelik kan my maatjies my help en ons kan dit saam doen.”

Adriana gloei as sy oor haar seun se bedagsaam- en mededeelsaamheid praat.

“Ek en my man probeer help waar ons kan, dit is ‘n riem onder my hart dat Jeandré daaruit geleer het en dieselfde waardes toepas,” sê sy.

“Hy wil net die hondjies help en sy toewyding is aansteeklik.”

LEES OOK: Pug Rescue urgently needs foster homes

LEES OOK: Brentwoodpark leerling maak naam op die rugbyveld

  

Exit mobile version