Local newsLocal sportNewsSchoolsSport

Brentwoodpark leerling maak naam op die rugbyveld

“’n Droom word net bewaarheid deur harde werk.”

Van die ouderdom van drie jaar, speel Laerskool Brentwoodpark leerder Tyren Geldart (12) rugby en droom daarvan om in die groen en goud te pronk.

Jare se passie en harde werk het byna verlore gegaan toe dié jong man ‘n rugbybal verruil het vir aanlynspeletjies tydens die afgelope twee jaar se Covid-19 inperkingregulasies wat ’n stokkie voor die deelname aan sport gesit het.

“Tyren was verpletterd toe die inperkings so gesloer het. Hy het in ‘n matige depressie verval omdat hy gedink het sy laerskool rugby loopbaan is verby,” het sy pa, Tommy, gesê.

“Hy het in sy kamer gebly, aanlynspeletjies gespeel en het slegte voedsel keuses gemaak. Hy het 25kg opgetel en die vonkel was nie meer in sy oë nie.”

Tyren verduidelik verder dat gedurende dié tyd, hy sy passie verloor het en dat dit makliker was om homself te verloor in speletjies terwyl hy gesmul het aan soetgoed en ander snoepgoed.

LEES OOK: Laerskool Brentwoodpark learner receives 13 awards

Toe kom die aankondiging wat hy gedink het sal nooit kom nie, skole mag weer deelneem aan sport en skole rugby gaan binnerkort afskop.

“Ek het op die skaal geklim en was geskok om te sien dat ek 70kg weeg. My afrigters het gesê ek sal eerder moet voorry speel,” sê Tyren.

“As ek ooit weer wou agterry speel moes ek drasties begin werk om die gewig af te skud en fiks word.”

Hy het vir ure tuis geoefen en na mate fisker en sterker geword.

“Hy het die keuse gemaak om sy gemoedstoestand om te swaai en so ook sy liggaam in top kondisie te kry,” het Tommy gesê.

“Ek het hom bygestaan en ondersteun, maar is vreeslik trots op wat hy behaal het. Hy het sy doelwitte gestel.”

Tyren is onlang aangewys as Laerskool Brentwoodpark se eerste span kaptein en speel as binne senter.

Hy is ook gekies om deel te vorm van die Valke se o-13A span en speel vlank.

“Ek in die negende hemel,” sê Tyren.

“My drome word waar omdat ek ‘n besluit geneem het om myself te verbeter.”

Alhoewel hy sy ouers se volle ondersteuning het, is voorwaardes wel gestel vir hom om aan te hou rugby speel.

“Balans is uiters belangrik en Tyren weet dat hy ook sy akademiese gemiddeld moet volhou,” het Tommy gesê.

“Hy blink uit op beide platvorms en aanlynspeletjies is nie meer van belang nie. Hy gaan nog naam maak en ons staan bankvas agter hom.”

LEES OOK: Hans Moore 0-16 rugbyspan wen Valke liga

   

Related Articles

Back to top button