ONTHOU JY NOG? ‘Wonderbaba’ is gereed vir matriek

Met Graad 12 reeds in volle swang, rig Zcharnel al haar aandag op die toekoms.

In 2004 het die stad gegons toe die Boksburg Advertiser berig gedoen het oor Maureen de Kock, van Van Dyk Park, en die geboorte van haar dogter Zcharnel.

Die storie het media aandag dwars oor die land getrek aangesien Maureen, toe 48 jaar oud, eers op 34 weke uitgevind het dat sy swanger is met haar laatlam.

Spekulasie het gewoed oor die baba se gesondheid asook of ma ten volle sou herstel na geboorte aangesien sy reeds in haar oorgangsjare was.

Dié week (7 Februarie) het Boksburg se ‘wonderbaba’ en matrikulant by Hoërskool Die Anker in Brakpan haar 18de verjaarsdag gevier.

Sy dien op die skool se leerlingraad en is ook ’n sportvrou van formaat wat graag deelneem aan jukskei en netbal.

“Toe ek uivind ek is swanger was ek oorweldig. Ek was dan reeds ’n ouma,” het Maureen gesê.

“Sommige mense was baie negatief, maar ek het aan my geloof vasgeklou en geglo dat daar ’n rede is dat Zcharnel hier moes wees.

“Ek kyk na my dogter vandag en is so trots op die suiwer waardes wat sy uitleef.”

Volgens Zcharnel was sy gereeld geboelie en moes noodgedwonge leer om op te staan teen diegene wat haar geteiken het.

“Ek het nie geduld met mense wat ander verkleineer of boelie nie,” het Zcharnel gesê.

Met Graad 12 reeds in volle swang, rig Zcharnel al haar aandag op die toekoms.

“Ek wou eers medies gaan swot het, maar gedurende die grendeltyd het ek en my pa, Albert, gereeld die kombuis binne gevaar om te bak en brou,” het sy gesê.

“Dit het ’n liefde vir kosmaak opgewek en ek hoop dat ek moontlik ’n loopbaan in die gasvryheidindustrie kan nastreef.”

Lees Ook: Ouers dankbaar vir baba se suksesvolle hartoperasie

Lees Ook: Brawe Pa vang baba

   

Exit mobile version