Oom Schalk laat ’n groot leemte

Volgens Piet se skoonsuster, Fransie Steyn, was hy een van die beste en netjieste polisiemanne.

Piet van Schalkwyk (Oom Schalk), wat vir jare diep spore by die Benoni SAPD getrap het, is op 3 Julie weens Covid-19 oorlede.

Die 79-jarige Piet, ’n inwoner van Huis Dien Bothma in Boksburg sedert 2018, is in Riversdal gebore.

Hy het in ongeveer 1960 polisie-opleiding ontvang en daarna sy loopban in Knysna afgeskop, waar hy sy vrou, Doris, ontmoet het.

LEES OOK: Bekende Afrikaanse akteur dood aan Covid

Die passievolle polisieman is ’n paar jaar later na Benoni oorgeplaas waar sy kinders, Crystelle Ackermann en Mandie Luyts, gebore is.

“Hy het by die Benoni-polisiestasie se meganiese skool gewerk en was ook later werwingsoffisier by die stasie. Hy het ook later ’n huis in Springs gekoop waar ons as kinders grootgeword het,” het Crystelle (ook voormalige Springbokrugbyspeler Johan Ackermann se vrou) gesê.

Crystelle en Mandie het gesê dat van Schalkwyk ’n groot leemte laat.

“Pappa, jou stem was nou lank stil en nou is jy weg. Almal onthou jou stories en terggees. Ek sal jou onthou met elke koppie koffie wat ek drink, maar sonder die drie groot lepels suiker in. Jy was enige motorenjin se baas, behalwe die Mini se brieke wat ons altyd gebreek het. Jou geduld was oneindig.

“Tyd was nooit jou baas, want tyd kry jy nooit terug nie. Dankie dat Pappa so mooi na Mamma gekyk en haar opgepas het as sy siek was,” het Mandie in ’n huldeblyk gesê.

Volgens Piet se skoonsuster, Fransie Steyn, was hy een van die beste en netjieste polisiemanne.

“Almal wat saam met hom gewerk het was mal oor hom. Hy was baie geliefd,” het sy bygevoeg.

Piet laat sy vrou, dogters, kleinkinders, familie en vriende agter.

LEES OOK: #Covid-19: Wall of Remembrance – Graeme Carr

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version