Kleuterskool vier 50ste bestaansjaar

Om dié spesiale herdenking van Ons Eie te vier, gaan die kleuterskool ‘n pretdag by die skool hou.

“Dit is vir ons ‘n groot mylpaal en ek glo die prentjie wat die kultuurraad wou vestig, is gevestig.”

Só sê Naomi Geeringh, hoof van Ons Eie Kleuterskool, in Airfield, oor die skool wat op 16 April sy 50ste bestaansjaar vier.

Ons Eie is ‘n tweetalige kleuterskool met Christelike waardes en normes. Die kleuterskool bied hul dienste aan vir babas vanaf vier maande en hul kurrikulum strek tot en met Graad R onderskeidelik in Afrikaans en Engels.

Die eerste bakstene vir dié kleuterskool is in 1971gelê. Die skool was die inisiatief van die skakelkomitee van Benoni. In 1981 het die skool ‘n departementeel beheerde skool geword.

Die skakelkomittee het die skool oorhandig aan die kultuurraad wat dit vir ‘n hele aantal jare bestuur het. Toe die raad ontbind, is die skool in 2006 aan die gemeenskap van Benoni oorhandig.

Om dié spesiale herdenking van Ons Eie te vier, gaan die kleuterskool ‘n pretdag by die skool hou.

“Ons gaan die skool mooi versier met ballonne. Die kleuters gaan ook aantrek soos vyftigjariges terwyl die personeel soos kleuters gaan aantrek. Verder kan leerlinge ‘n hindernisbaan voltooi,” het Geeringh opgewonde vertel.

In die halfeeu het Ons Eie uitgebrei van drie na nege klasse. Die skool het in 1981 dubbelmedium geword en alle rasse is welkom by die kleuterskool.

Volgens die hoof is die skool uniek omdat hul ‘n nie-winsgewende instansie is.

“Al die fooie wat geeïn word, word weer teruggeploeg in die skool en kinders. Daar is geen eienaar wat meer wins wil maak nie,” het die hoof gesê.

Geeringh het gesê dat Ons Eie se personeellede passievol is oor dit wat hulle doen en dat dit vir hul meer as net ‘n werk is.

“Baie van ons personeel is al langer as 20 jaar by Ons Eie. Tannie Poppie Hofmeyr, ‘n sekretaresse by die die skool, het verlede jaar afgetree nadat sy 46 jaar gelede (1976) by die kleuterskool aangesluit het,” het sy bygevoeg.

Die hoof het beklemtoon dat Ons Eie betrokke is by die gemeenskap en dat hul gereeld hulle deel doen vir liefdadigheid.

“Ons probeer ook altyd om die minderbevoorregte kinders by die kleuterskool in ag te neem.”

Verder het sy die personeel en ouers bedank vir hul bydrae tot die sukses van die kleuterskool.

Geeringh het die City Times geluk gewens, wat hierdie jaar ‘n eeu oud is.

“Al die skole waardeer dat die City Times gelyke dekking gee aan al die plaaslike skole. Ons hoop die publikasie sal voortbou op die goeie werk wat hul doen. Die kleuterskool adverteer gereeld by die City Times,” het sy gesê.

LEES OOK: Tannie Poppie groet Ons Eie Kleuterskool na 45 jaar

LEES OOK: Hoërskool Hans Moore nuwe personeel 2020

   

 
Exit mobile version