VIDEO: Morné motiveer en inspireer met nuwe enkelsit

Morné het ’n groot liefde vir musiek, die natuur en sy gesin en meen dat hy in die toekoms graag baie wil reis

“’n Mens moet ophou wag en hoop vir ’n beter ‘eendag’ en begin waag en doen. Wees elke dag gelukkig met die klein dinge. Daar is nie ’n beter tyd as nou om jou drome en passie na te jaag nie,” het Morné Coetzee verklap oor die betekenis agter sy eerste solo-enkelsnit wat onlangs uitgereik is.

ALSO READ: Rudi Claase se loopbaan gaan steeds van krag tot krag

Vandag is ’n lekkerluister en motiverende Afrikaanse popsnit uit die pen van Vaughan Gardiner en lê die talentvolle kunstenaar na aan die hart omdat hy self onlangs besluit het om ’n kans te waag en sy eie droom na te jaag.

“Almal het iets in hulle hart wat hul graag wil bereik of doen, maar ’n mens is altyd so bang vir mislukking of wonder wat ander daarvan gaan sê of dink dat ons, ons eie passie versmoor,” het hy verduidelik.

“Dit is vir my self ’n groot stap in my lewe om nie te wag nie en om nou iets te doen. Dit is nooit te laat nie.”
Buiten vir sy stem wat die meesleurende wysie van die liedjie soos ’n handskoen pas, sal die positiewe boodskap van dié lied ook aanklank vind by gehore van alle ouderdomme en hoop bring vir mense wat dit in hierdie tyd baie nodig het.

Morné het in Boksburg grootgeword en woon tans in Boksburg-Wes. Hy is al vir twee jaar aktief in die musiekbedryf doenig. Die kunstenaar het bekendheid verwerf as deel van die groep, Virander, wie se liedjie, Sing ’n Hallelujah, een van Maroela Media se Top 40-liedjies vir 2020 was.

Alhoewel hy al op 15 begin kitaar speel het en baie betrokke is by die musiekbediening in sy kerk, het hy eers onlangs besluit om ’n kans te waag op sy musiekdroom. Hy werk ook as fotograaf en grafiese ontwerper om die pot aan die kook te hou.

Die kunstenaar geniet ’n wye verskeidenheid musiek, maar sonder Switchfoot, Brandon Lake, John Mayer, Cory Asbury uit as sy grootste inspirasie. Hy verklap ook dat hy graag nog eendag saam met kunstenaars soos Roan Ash, Karen Zoid en Bernice West sou wou werk.

“Ek wil oor dinge skryf en sing wat ek in my eie lewe ervaar en wat vir my iets beteken en positiewe, inspirerende musiek skep oor dinge waarmee ons almal elke dag te doen kry,” het hy oor sy musiek vertel.

Morné het ’n groot liefde vir musiek, die natuur en sy gesin en meen dat hy in die toekoms graag baie wil reis. Vir nou fokus hy egter op die bemarking van sy nuwe enkelsnit, om materiaal bymekaar te kry vir sy eerste album en om ’n goeie pa te wees vir sy dogter wat in 2020 gebore is.

Hoe het die pandemie Morné se loopbaan beïnvloed?

“Ek is baie geseënd dat musiek nie my hoofbron van inkomste is nie, maar dit is hartseer om te sien hoe al die kunstenaars geaffekteer word. Op hierdie stadium kan niemand regtig nog winsgewende optredes doen nie, daarom doen mens maar iets anders op die kantlyn,” het hy vertel.

Die liedjie is nou op alle digitale platforms beskikbaar. Kry dit hier: Morné – Vandag – Single (lnk.to)
Kort na sy enkelsnit-vrystelling, wat steeds spog met positiewe terugvoer van verskeie radiostasies, bederf hy nou sy luisteraars en volgelinge met ’n pragtige musiekvideo wat in Dullstroom deur Wian van der Walt verfilm is.

Interessante feite oor Morné:
• Hy hou van kosmaak.
• As hy die tyd het skilder hy graag.
• Hy hou nie van wortels nie.

ALSO READ: Brandwag herdenk 100-jaar bestaan met eeufeesrevue

   

Exit mobile version