Onwaarhede oor ernstig beseerde seun ontstel

“Ons is ongelooflik dankbaar vir al die ondersteuning wat ons van die meeste mense kry, maar daar is ongelukkig ‘n handjievol wat dit goed dink om op sosiale media onwaarhede te versprei.”

Die ma van die 18-jarige seun wat Woensdagoggend ernstig beseer is in ‘n motorfietsongeluk het vanoggend (Vrydag) haar misnoeë uitgespreek oor mense wat vals inligting oor haar seun se toestand en omstandighede versprei.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir al die ondersteuning wat ons van die meeste mense kry, maar daar is ongelukkig ‘n handjievol wat dit goed dink om op sosiale media onwaarhede te versprei,” het Petro Maartens (53) gesê.

Sy is veral ontsteld omdat iemand aangedui het dat haar seun, Christo Venter in die Tambo Memorial Hospitaal in Boksburg is.

“Dit is absolute onsin en baie ontstellend vir my.”

“My seun is Woensdagmiddag reeds na die Life Glynwood Hospitaal in Benoni oorgeplaas waar hy in die intensiewesorgeenheid behandel word.”

Volgens Maartens beskik haar kind oor ‘n mediese fonds, maar  dek die fonds net ‘n gedeelte van ‘n noodsaaklike breinoperasie wat Christo moet ondergaan.

“Ons het ‘n fonds op die been gebring om die geld, wat te kort skiet, in te samel en ons is uit die diepte van ons harte dankbaar vir almal wat reeds bydraes gemaak het.”

Sy het bygevoeg dat daar reeds genoeg geld ingesamel is vir die operasie, maar dat daar nog behandeling sal volg en dat hulle nie seker is wat die koste daaraan verbonde sal wees nie.

“Daar is so baie mense en instansies wat hul harte en beursies oopgemaak het.”

Maartens het gesê dat Christo benewens die kopbesering ook ‘n fraktuur aan sy wangbeen het en beide sy gewrigte ook gebreek is.

Lees ook: 

Hoërskool leerder in motorfietsongeluk beseer 

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Exit mobile version