CrimeLocal newsNews

Bestuurder gee homself oor na noodlottige tref-en-trap in Bredell

Alicia Loots, Kempton Express voer verslag: Barend Viljoen was op pad huis toe vanaf sy werk in Isando toe die kar hom reg van voor op sy 125cc bromponie getref het.

‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek nadat die pa van ‘n tienerseun Sondagaand omstreeks 6nm op sy bromponie in Elmweg, Bredell doodgery is.

Die bestuurder van die motor wat Viljoen (47) van Benoni getref het, het na die ongeluk weggery.

Hy het glo aan die verkeerde kant van die pad gery.

Hy het hom Dinsdagoggend in die teenwoordigheid van sy prokureur aan die polisie by Crystal Park Polisiestasie in Benoni oorgegee.

Volgens Herman Welgemoed, Viljoen se swaer, was Viljoen op pad huis toe vanaf sy werk in Isando toe die kar  hom reg van voor op sy 125cc bromponie getref het.

‘n Inwoner van Elmweg, wat op die toneel was, het aan Express vertel: “Ek en my man het gaan visvang en toe ons by die huis kom, het ek ‘n harde slag gehoor en dadelik gaan kyk wat aangaan.

“Ek het ‘n kar gesien weg ry en daar het ‘n man in die pad gelê.

“Ek het aan sy pols gevoel en dit was baie sterk.

“Ek het teruggehardloop huis toe en ‘n kombers gaan haal.

“Ek het die heeltyd by Barend gesit en kort-kort sy pols gevoel.

“Dit het al hoe swakker geword totdat sy oë grys geraak het.

“Hy was weg.”

‘n Facebook-inskrywing van Viljoen se vrou, Valerie, het Dinsdagoggend gelees:

“Hi mense ek het goeie nuus, die flippen vark wat my man Sondagaand doodgery het in Bredell, het homself vandag twee dae na die tyd oorgegee by polisiestasie … natuurlik pla sy gewete hom hy sal sy dag kry ons gaan dit nie daar los!!! RUS IN VREDE MY MAN is bly dit het uitgekom nou kan die REG sy gang gaan.”

“Volgens Adjudant Offisier Richard Bloem is die man nie gearresteer nie weens verdere ondersoeke op sy motor vir skade en moontlike bloedspatsels, maar hy sal aangekla word vir strafbare manslag, versuim om skade en beserings aan te meld en versuim om die ongeluk aan te meld binne die voorgeskrewe tydperk van 24 uur,” sê Tryna Maritz, woordvoerder van Crystal Park SAPD.

Viljoen laat sy vrou Valerie en seun Brandon (14) agter.

bike-520x400
Viljoen se bromponie na die ongeluk. Foto verskaf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button