Hase teister inwoner se tuin

Sedert April is Marie Cloete se tuin, in Struben Straat, Rynfield, ’n klaarblyklike heenkome vir hase.

Cloete sê daar was op tye 20 tot 30 hase in haar tuin, almal waarskynlik van die Benoni Hasiepark wat minder as 200 meter van haar huis geleë is.

“Die hasiepark het ’n gat in hulle heining waardeur die hasies kruip,” sê Cloete.

“Ek het die bestuur van die park genader en drie weke op ’n reaksie gewag sodat iemand iets aan die situasie doen. Hulle het toe vier mense uitgestuur, maar daar was geen poging om die hasies te vang nie.

“Ek het die Benoni DBV gebel om ’n valstrik te bekom, maar hulle wou nie een verskaf nie en het gesê dit is dieremishandeling.

“Ek het toe self ’n valstrik gekoop en twee hasies gevang. Hulle is slim hoor, mens vang hulle nie maklik nie.”

Volgens Cloete strek die probleem verder as haar eie tuin.

“Behalwe vir die verwoesting wat hulle in my tuin saai, word hulle ook doodgery in die strate,” sê Cloete.

“Op ’n stadium het my tuinwerker twee dooie hase per dag raakgesien wat waarskynlik onbewustelik deur verbygaande motors doodgery is.”

Cloete sê sy woon nog nie lank in die buurt nie en noem dat sy met ander inwoners, wat langer in die buurt woon, gepraat het oor die hase.

“Hulle sê dit gebeur van tyd tot tyd, dat dit nie baie algemeen is nie en dat dit afhang van die park se bestuur.

“Hulle het vir my gesê dit gaan baie kos om die heining reg te maak, maar hulle vra nie eers ’n ingangsfooi by die park, wat baie sal help, nie.”

Gideon Strydom, bestuurder van die Hasiepark, het beklemtoon dat die park se finansies van die munisipaliteit afhang.

“Dit gaan baie kos, maar ons het ’n tender in om die heining om die park te versterk, ons wag net vir die proses om gefinaliseer te word,” sê Strydom.

Ekurhuleni Metropolitan Municipality (EMM) het voorheen gestipuleer dat dit onwettig is om ’n ingangsfooi te vra, aangesien die Hasiepark ’n publieke park is.

Exit mobile version