Bosveld liefhebber word 101

Marthie Schoeman het op 30 Mei haar 101ste verjaardag gevier en haar hele familie het by haar aangesluit vir 'n partytjie.

‘n Vriendin, Siska Cronje, het ‘n album vir Schoeman se 100ste verjaardag gemaak en het hierdie jaar nog ‘n bladsy daartoe bygevoeg.

Schoeman is in 1914 aan Nicolaas Johannes en Hendrika Susanna Erasmus gebore, in Middelburg.

Sy was die oudste van 10 kinders, waarvan slegs sy en die jongste, Kotie Vermeulen (82), nog leef.

Sy het later na die Bosveld getrek, waar sy en haar man Jaap Calitz met beeste en skape geboer het.

Schoeman het haar hele getroude lewe in die Bosveld, sowat 200km vanaf Potgietersrus, gewoon.

Sy is in 1936 getroud, met Jaap, wat in 1960 in ‘n motorongeluk dood is.

Hulle het saam ses kinders gehad, wat almal in die Bosveld gebore is.

Hulle kinders is Koos, Hans, Nic, Jan en Jaap Bekker (enigste dogter).

Ongelukkig is hulle eerste kind op ses maande oorlede, aan malaria.

Jan Calitz, is verlede jaar oorlede, net na sy ma se 100ste verjaardag.

In die vroeë 1960s het Marthie met Von Schoeman getrou, en hulle was vir 16 jaar getroud, tot sy dood.

“Sy het na haar man se dood nog op die plaas aanhou werk en, omtrent 20 jaar gelede, het een van my broers haar gaan help, maar vyf jaar gelede moes hy ingaan vir ‘n operasie,” sê Bekker.

“Hy kon haar nie meer help nie, toe bly sy vyf jaar by Jan in Pretoria, nou, vanaf Maart, bly sy by my.”

Verder het Schoeman ses kleinkinders en vier agterkleinkinders.

Sy kuier te lekker en vertel van al die goeie tye wat sy in die Bosveld beleef het.

Hoewel sy nou in die stad bly, verlang sy baie na die Bosveld en sou graag daarheen wou terugkeer.

“Ek moet vir jou sê, die Bosveld was die lekkerste, veral Kerstyd en al die tye wat die familie kom kuier het,” sê Schoeman.

“Ek het sommer self rooibok op die plaas geskiet en altyd my eie ‘boereseep’ gemaak.”

“Sy is ‘n goeie ma, ons het lekker daar grootgeword, met haar in die Bosveld,” sê haar dogter, Jaap Bekker.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version