Vet pret om ‘n vrou te wees in die Sarie Marais Klub

Vrouens wie na 'n blaaskans van hul bedrywige leefstyle verlang, of net smag na 'n nuwe, prettige ondervinding, word uitgenooi om by die Sarie Marais Klub aan te sluit.

Die Sarie Klub is in 1971 gestig, spesifiek om aan die werkende vrou en vrouens met kinders die geleentheid te bied om aan ‘n klub te behoort.

Meeste van die ander dames-klubs op die Oos-Rand vergader gedurende die dag.

Die klub is ‘n nie-winsgewende organisasie vir werkende dames, onderwysers, profesionele dames en moeders wat nie gedurende die dag by ander organisasies kan inskakel nie.

Die klub vergader op die derde Dinsdag van elke maand, om 7nm, by Summerplace Landgoed, in Bartlett, Boksburg, waartydens verskeie sprekers die dames kom toespreek.

Groter funksies word ook gedurende die jaar gereel, waar van ons land se voorste en bekendste kunstenaars optree.

Die byeenkomste van die Sarie Klub is aanvanklik in ‘n skool klaskamer gehou, later aan huis van die lede, en mettertyd is ‘n saal by Benoni Lake Klub gehuur.

Vir 13 jaar is vergaderings een keer per maand in die Biblioteekteater, Benoni, gehou, waarna hulle na Summerplace geskuif het.

Die Sarie Klub se 43ste verjaardagviering sal op Saterdag, 24 Mei, by Summerplace gehou word.

Die klub se oogmerk is hoofsaaklik om aan die behoefte van vandag se moderne vrou te voorsien.

Besondere aandag word geskenk aan die intellektuele stimulering van die vrouens.

Sake van aktuele belang word bespreek en die vrouens word op hoogte gehou van nuwe ontwikkelings en tendense.

Vergaderings word beplan met die oog op hoofsaaklik sosiale aktiwiteite en ontspanning, aangesien dames meesal beroepsdames is, wat ‘n blaaskansie verdien en daarna uitsien.

Vergaderings, vermaak en demonstrasies word op ‘n hoë vlak aangebied, sodat elke vrou daardeur verryk en opgehef word.

Die vrouens identifiseer ook met die hoë waardes en norme wat in die Konstitusie voorgehou word.

Vir verdere inligting, skakel vir Susan Noppe by 083 268 7245.

Exit mobile version