Local newsNews

‘Stadsjapie en boeremeisie’ vier 65 jaar

Een ontmoeting is al wat dit geverg het om Rynpark 1 egpaar, Hennie (88) en Marthie (85) Havenga verlief op mekaar temaak.

Die twee het op 18 Desember hul 65ste huweliksherdenking gevier.

Die egpaar het mekaar deur ’n korrespondensie blad van die Landbouweekblad ontmoet, in Februarie, 1948.

Hennie het toe vir Marthie gaan kuier op hulle plaas in Morgenzon, waar Marthie se familie baie beïndruk met hom was, en hom die “Joburg laaitie” genoem omdat hy ’n stadsjapie van Johannesburg was.

Op 18 Desember 1948 is hulle in die huwelik bevestig in die NG kerk in Turffontein, Johannesburg.

Hennie het gesê Marthie was ’n baie mooi boeremeisie en hy het aan haar verloof geraak toe hy haar vir die tweede keer gesien het.

Marthie was sommer dadelik op hom verlief en het gesê dat sy humorsin haar aangetrek het.

Hulle het in 1959 na ’n plot in Bredell getrek waar hulle tot 2001 gewoon het.

Van toe af bly hulle in Rynpark 1.

Hennie was ’n gekwalifiseerde sweiser en het by ’n firma in Benoni wat staalvensters gemaak het, vir omtrent 30 jaar gewerk.

Marthie was ’n huisvrou en het hard gewerk op die plot met haar eie hoender boerdery, en het ook baie gehelp met die varke en beeste wat hulle gehad het.

Sy het ook ’n groot groentetuin en blomtuin gehad en gehou daarvan om alles uit te deel met trots en groot liefde.

Hennie en Marthie het twee seuns, Gerrie (61) wie huidiglik saam met sy vrou, Pam, in Oman werk, en Bennie (57) en sy vrou Ronel, wie in Kempton Park woon.

Hulle het ook vier kleinkinders, Lindie (29), Lee (25), Danielle (26) en Ruben (24).

Hennie lees graag en geniet dit om te gesels, veral met hul vriende en kinders.

Marthie is ’n flukse vrou wat daar van hou om haar gaste te bederf met haar tuisgebakte tert, koek, kleinkoekies of konfyttertjies.

Die paar het gesê hul wenresep vir hierdie lang huwelik is: “Om elke dag naby die Here te leef en respek en liefde te hê vir almal om jou en veral vir mekaar”.

Die kinders sê hulle volg ook hul ouers se voorbeeld van ’n lang en gelukkige huwelik; Gerrie en Pam is al 37 jaar getroud en Bennie en Ronel 30 jaar.

Die kleinkinders dink hulle het die beste ouma en oupa wat mens kan kry, en geniet altyd oupa se grappies en ouma se sagtheid en besorgdheid.

Related Articles

Back to top button