Community galleriesGalleries

Voortrekkers gaan groot met 50-jaar fees

Die Eben Dönges Voortrekkerkommando het onlangs hul 50-jarige bestaan gevier.

Die Vrydagaand het die lede ‘n Dapper-Stapper-Safari-ete gehad, waartydens hulle van een huis na die volgende gestap het en by elke huis ‘n deel van die ete geëet het.

Daar was melkkos as voorgereg en vetkoeke met verskillende vulsels as hoofgereg.

Die nagereg was pannekoek, gestapel met karamelkondensmelk tussenin en bedien met Bar One sjokoladesous.

Die stap het by die Gereformeerde Kerk Benoni, in Miles Sharpstraat geëindig, waar daar warm sjokolade met malvalekkers bedien is.

“Die Saterdag was almal al vroeg besig om die potjies te kook,” sê kommandoleier, Tarina van der Merwe.

Oud-Voortrekkers soos Dick en Marié Kruger, Morkel en Gwen Rademeyer, Christa Bensch, Jannie en Elda van der Merwe, asook Eugene en Carene Stigling was by die byeenkoms.

Elsa Schnetler (adjunk-gebiedsleier), Joshua Du Plessis (oordleier) en Christine Janse van Rensburg (adjunk-oordleier) van die Oosvaal Oord het ook die funksie bygewoon.

 

As deel van die fees, het die kommando ook nuwe Penkoppe, Drawwers, Verkenners en offisiere ingelyf.

“Daarna het ons die kerse op die koek aangesteek en heerlik gesmul aan die koek,” sê Tarina.

“Die potjies vir vroeë aandete was ‘n wenner – beesstert, hoender en wildsvleis.”

Volgens Tarina leef die Voortrekkerjeug, onder leiding van volwassenes, die ABCD beginsels van die beweging uit: moderne Afrikanerskap, positiewe burgerskap en diensbare leierskap wat gemeet word aan konsekwente Christenskap.

“Dit word met ‘n KAN-benadering gedoen: kultuur en avontuur in die natuur.”

Marius Smith, wie se kinders al lank betrokke is by die kommando, het gesê: “Voortrekkers speel ‘n belangrike rol in skoolgaande jong mense se lewe – die kind leer om binne ‘n gekontroleerde, veilige omgewing te waag.”

Die kommando se spanbyeenkomste word elke Woensdag tussen 5.15nm en 6.30nm by die Gereformeerde Kerk, in Miles Sharpstraat, gehou.

Vir meer inligting, kontak van der Merwe op 083 785 5345 of adjunk-kommandoleier Anton Grobbelaar op 082 880 3839.

Follow us on these platforms:

Like our Facebook page and follow us on Twitter.

For news straight to your phone invite us:
WhatsApp: 079 431 1217

Instagram: benonicitytimes.co.za

Related Articles

Back to top button