Local news

Ligte, kamera, aksie! Madelein wen by SterStatus

Die titel gee vir Madelein ‘n aktiewe rol as vervaardiger in die 2023 seisoen

Madelein Hendricks, ma, besigheidsvrou en werwer van Farrarmere, neem vir die afgelope jaar aan Via se SterStatus kompetisie deel en het onlangs weggestap met die vervaardiger titel.

Dié menseverhouding beïnvloeder beskryf haarself as ‘n vrou met lewenslus en ‘n passie vir die vermaaklikheidsbedryf.

“Ek het besluit om vir SterStatus in te skryf aangesien dit vrouens regoor die land die geleentheid gebied het om hul voet in die deur te kry in die plaaslike vermaaklikheidsbedryf,” sê sy.

“Dit is nie ‘n skoonheidskompetisie nie maar ‘n realiteitsprogram wat daarop toegespits is om 30 finaliste se reis te volg, waartydens ons oor die tegniese aspekte van die filmbedryf geleer word om dan sodoende die kompetisie uitdaagings uit te voer.”

Van meer as 300 inskrywings is slegs 30 finaliste gekortlys, wat deur die jaar take moes uitvoer soos, ‘n kort film vervaardig, ‘n teks skryf, televisie advertesie skiet, ‘n fotosessie produseer asook deelneme in ‘n modelvertooning.

Punte gedurende uitdagings is aangeteken en die wenner van die reeks asook kategorie wenners is op 23 Oktober, aangewys.

Met haar toekenning as vervaardiger sal Madelein ook daarvoor verantwoordelik wees om alle aspekte van volgende jaar se seisoen te vervaardig.

“Hierdie was ‘n fantastiese ondervinding waartydens ek soveel kennis opgedoen het in ‘n bedryf wat ek nog altyd wou betree,” sê Madelein.

“Dit het my bemagtig om my vaardighede op te skerp en sodoende die selfvertroue te hê om ‘n meer aktiewe rol agter die skerms aan te durf.”

As ma van twee sê Madelein die kompetisie, die pad voorentoe, haar verskeie besigheidsbelange en gesin verg dat sy ‘n fyn balaans moet handhaaf tussen al haar verantwoordelikhede.

“Ek is geseën met ‘n wonderlike man wat my ondersteun,” sê Madelein.

“Maar ek glo as jy werklik passievol is oor wat jy doen sal jy dit laat werk sonder om enige aspekte van jou lewe af te skeep.”

Inskrywings vir die 2023 seisoen van SterStatus is reeds oop en sal op eTV uitgesaai word om ‘n wyer gehoor te bereik.

“Dié program is uniek en stel vrouens van alle ouderdomme, agtergronde en vaardigheidsvlakke die geleentheid om blootstelling in die vermaaklikheidsbedryf te kry,” sê sy.

“As jy ‘n droom het moet jy dit nastreef en werk dat dit ‘n werklikheid word.”

ALSO READ: Reality show creates hope for job seekers

ALSO READ: Draaiboekskrywer betower kykers

   

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button