EntertainmentLifestyle

Rubriek: Gepraat van … ’n Mini-oorlog het rondom my uitgebreek

Later word dit donker en ek wil by die kolonel weet wat hulle van plan is.

Die onlangse grootskaalse onluste en stropery van winkelsentrums het my herinner aan my dae as verslaggewer in die Noord-Kaap.

As joernalis vir ’n nasionale dagblad moet jy goeie verhoudings met die gemeenskap en die polisie opbou, want hulle is jou bronne vir stories.

Ek was in die gelukkige situasie dat ek onder andere ’n baie goeie verhouding met die bevelvoerder van die Kuruman-polisiestasie gehad het.

Hy het eendag gebel en gesê: “Jy moet kom, hier is moeilikheid op die pad na Vryburg toe.”

“Waar presies is julle kolonel?” wou ek weet. “Ry net, jy sal ons sien. Bel my as jy hier naby is dan stuur ek iemand om jou te vergesel. Die situasie is moeilik.”

Ek het gery totdat ek nie verder kon nie, want ’n groot klomp vragmotors was skuins oor die nasionale pad getrek. Ek bel die kolonel.

Hy sê hulle is aan die anderkant van die klomp vragmotors, ek moet bly waar ek is, hy stuur sy mense.

Nie lank daarna nie daag twee polisie vangwaens op – een van die manne vat my motor en ek klim in saam met die polisie in ’n ander voertuig.

Ons ry ’n kronkelpaadjie deur die veld totdat ons uiteindelik aan die anderkant van die vragmotors uitkom.

Ek en my motor is veilig. Ek sit saam met die polisie in hulle voertuig en kry al die inligting vir my storie.

Inwoners van ’n informele nedersetting het die vragmotors dwars oor die pad getrek, want hulle was ongelukkig omdat plaaslike regering nie vir hulle werk aangebied het nie. Daar word nuwe paaie gebou en die kontrakteurs het eerder werkers vanaf Johannesburg in diens geneem.

Later word dit donker en ek wil by die kolonel weet wat hulle van plan is. Hy sê hulle wag vir Kimberley se openbare polisiëringseenheid (Pops).

Pops vat nie nonsens van enige iemand nie, het ek so by myself gedink. 

Die oproeriges begin vuur maak onder die vragmotors. Ek raak benoud en vra weer “Kolonel, waar is Pops?”

Ilse Watson is ‘n subredakteur by Caxton Local Media.

Hy antwoord: “Moenie bekommer nie, hulle is hier.”

Toe breek daar ’n mini-oorlog uit. Die Pops-manne gooi skokgranate na die skare toe en skiet op hulle met rubberkoeëls.

Nog nooit in my lewe het ek gesien hoe ’n skare so vinnig uitmekaar kan spat nie. Die polisie saam met wie ek is jaag agter mense aan, vang hulle en neem hulle in hegtenis.

Effe bewerig ry ek laataand huis toe, gewapen met goeie foto’s en ’n groot storie.

Wet en orde is herstel.

LEES OOK: Bekende Afrikaanse akteur dood aan Covid

LEES OOK: Video: Nuwe hoop vir Sutherland-boere na nege jaar se droogte

Related Articles

Back to top button