Local newsNews

Oom Peet is nog gelukkig met aftrede

Oud adjunkhoof, Peet Peens (72) het in Maart na 50 jaar by Laerskool Rynfield afgetree.

Beide die personeel en die leerders het op besondere wyse van die geliefde wiskunde onderwyser afskeid geneem.

“Die afskeid van die personeel was iets besonders. Ons het ‘n regte boerekos ete gehad wat uit die boonste rakke was,” verduidelik Peens.

“Die volgende dag het die kinders almal op die pawiljoen versamel, dit was mooi, maar mens moes eintlik daar gewees het om dit te waardeer.”

Peens het amptelik in 1965 by die skool begin klasgee nadat hy ook sy proef periode by Laerskool Rynfield voltooi het.

“Ek kan nie sê hoekom ek hier begin het nie, ek het vriende hier naby geken en by hulle geloseer.”

Oor die jare het Peens ook wetenskap klasse gegee en later asdie skool se adjunkhoof gedien vir 18 jaar.

Hy sê dis moeilik om aan hoogtepunte te dink, maar vir hom is dit altyd lekker as mense later terugkom en hom bedank vir dit wat hy vir hul of hul kinders gedoen het.

Peens herroep dat die onderwys bietjie verander het vanaf 1965 tot nou, maar beklemtoon dat die einddoel onveranderd is.

Hy sê die skool self het egter baie verander.

“Die skool was maar vier jaar oud toe ek daar begin het, ek het dit sien groei oor die jare.” Peens het tot vir drie generasies van een familie en selfs vir huidige onderwysers klasgegee. Hy sê hy het nog nooit getwyfel aan sy keuse om onderwys as loopbaan te volg of om by Laerskool Rynfield te werk nie.

“Hy geniet dit (aftrede) nog, hoor,” sê Ina (66), Peens se vrou.

“Ek sal Sondae dink, ‘ag, môre moet Peet skool toe gaan’, en dan val dit my by dat hy lekker hier gaan bly. Hy het vir 18 jaar nie voor ses in die aand by die huis aangekom nie, nou is dit lekker om hom hier te hê.

“Ons het nog nie verder planne nie, maar ons het ‘n plekkie by die see, so ons sal dalk nog afgaan,” sê Ina.

“Veral hier in die koue oggend ure, dan kry ek die mense daar by die skool jammer,” sê Peens terug.

“Dis nie vervelig nie, hier is te veel om te doen.”

Vir die oud-onnie is sy sukses egter te danke aan sy vrou en kinders se bystand oor die jare, die hardwerkende mense by die skool en ook God se hulp. FvD

Related Articles

Back to top button