EntertainmentLifestyle

Ballade vir Benoni

Ballade vir ‘n Enkeling het die hele land aan die gons, en die regisseur kom uit Benoni.

Quentin Krog is verantwoordelik vir die nuutste oorvertelling van die ikoniese 1980s serie, nou in die vorm van ‘n rolprent.

Krog het van graad een tot ses die Tom Newby Primary School in Airfield bygewoon.

Gedurende sy tyd in Benoni het hy in Rynfield Agricultural Holdings en Farrarmere gewoon.

Na graad ses het hy na St John’s College in Houghton oorgeskuif.

Die film, Ballade vir ‘n Enkeling, is gebaseer op die radio-serie en televisie-serie uit die 1980s, beide, nes die film, is geskryf deur Leon van Nierop.

Krog is as een van vyf regisseurs uitgenooi om elkeen hulle visie vir die film voor te lê. Sy idee het die vervaardigers oorgewen en Van Nierop het later gesê dat Krog se regie ‘n perfekte vertaling van sy eie skryfkuns is.

Krog het drama en teater by die Universiteit van Stellenbosch gestudeer en het nooit amptelike opleiding in film ontvang nie.

Hy het op universiteit kort films begin maak en vandaar homself geleer, totdat hy Firestorm Productions begin het, ‘n klein vervaardigingsmaatskappy wat in digitale bemarking en korporatiewe videos gespesialiseer het.

Met die begeerte vir groter dinge, het Krog die maatskappy in 2010 verlaat, na Johannesburg getrek en op televisie- en filmstelle as assistent regisseur begin werk.

Hiervandaan het hy homself opgewerk tot sy televisie regie debuut, met die serie “Sterlopers”, vir kykNet.

Op die oomblik is Krog besig met die serie “Die Boekklub”, vir kykNet.

Hy woon in Kempton Park, maar is deesdae skaars daar vanweë sy werk, wat hom gereeld Wes-Kaap toe neem.

Krog sê hy is sterk beïnvloed deur Suid-Afrikaanse regisseurs, soos Neill Blommkamp en Gavin Hood, wat beide internasionaal bekend is en ver gekom het in hulle loopbane.

Hy geniet ook die werk van regisseurs soos Quentin Tarantino, Steven Spielberg, David Fincher, Christopher Nolan en Wes Anderson, onder andere.

Krog karakteriseer sy eie styl van regie as een wat bedoel is om natuurlike vertonings uit sy akteurs te verkry.

Gereeld bepaal die akteurs se toneelspel hoe die kamera moet beweeg, in plaas van andersom.

Hy werk dan ook saam met sy kinematograaf om die lig in tonele so natuurlik as moontlik te hou.

Hy hou ook van vinnige, ritmiese snitte in die tonele.

Balllade vir ‘n Enkeling is nou in teaters landwyd op die skerm, ook by Ster Kinekor by Northmead Square.

Related Articles

Back to top button