Community AnnouncementsNewsSchools

Zanthé (11) is top Suid-Afrikaanse tapdanseres

Northmead inwoner Zanthé Taljaard (11) maak gereed om in Desember, vir die tweede keer, aan die International Dance Organisation (IDO) wêreldkampioenskappe, in Duitsland, deel te neem.

Die talentvolle jong danseres het in Junie aan die “South African Dance Teacher’s Association” (SADTA) kampioenskappe deelgeneem en ‘n eerste plek vir haar tap dans behaal.

Die dansers wie die eerste drie plekke behaal het kwalifiseer om aan die IDO wêreldkampioenskappe te gaan deelneem.

Zanthé is tans ‘n leerder aan die Laerskool Northmead en neem klopdans, modern, ballet en jazz danslesse by die Steps School of Dance.

Sy dans al vandat sy drie jaar oud is.

Zanthé het vir die City Times vertel dat sy baie opgewonde is oor haar deelname aan die kampioenskappe, nadat sy verlede jaar ‘n sesde plek behaal het.

Wanneer sy groot is wil Zanthé graag ‘n dansskool van haar eie êrens naby die kus stig.

Haar ma, Elaine, het vertel dat die gesin baie trots is op haar dogter.

“Sy werk baie hard; dit vat baie deursettingsvermoë en van haar persoonlike tyd met haar maatjies wat sy moet opoffer,” het sy gesê.

Elaine het bygevoeg dat Zanthé baie beskeie oor haar prestasies is.

Zanthé het ook ‘n beurs by SADTA verwerf nadat sy as top mini-danser aangewys is.

Sy het ook ‘n top prestasie in die Dance Star finale behaal, wat deur die “European Dance Union” (EDU), in September, in Pretoria, aangebied is.

Hier is sy eerste geplaas in haar jazz- en klopdanse en het sy gekwalifiseer om volgende jaar, in Mei, in Kroasië te gaan deelneem.

Haar advies aan ander wie hoop om soortgelyke prestasies te behaal is: “Dit maak nie saak hoe moeilik dit is nie, al wen jy nie die eerste keer nie, hou aan probeer en werk hard en jy sal wel wen.”

Related Articles

Back to top button