EntertainmentLifestyle

Rudi Claase se loopbaan gaan steeds van krag tot krag

Meer as 700 liedjies het al uit Rudi se pen gekom

Die immergewilde liedjieskrywer en sanger Rudi Claase het nog altyd geweet dat hy ‘n kreatiewe, ou siel is. Om lirieke en melodieë te kombineer is soos ‘n tweede natuur vir hom.

Dié Rynfield-inowner, wat reeds op die ouderdom van byna vyf agter die klavier ingeskuif het, het veral bekend geraak toe hy destyds saam met die sangeres Corlea Botha as die sangduo, Die Lieflinge, opgetree het.

Rudi het die beroemde Reik na die sterre-sangkompetisie op ‘n brose ouderdom van 14 gewen en daarna sy horisonne gaan verbreed deur die oorsese waters te toets.

Sedertdien het die 700 liedjies wat hy al geskryf het hom ‘n huishoudelike naam gemaak, nie net as ‘n liedjieskrywer nie, maar ook ‘n kunstenaar.

Rudi se vernuf het hom goue, platinum – en dubbelplatinumstatus, drie Tempo- en twee Vonktoekennings besorg. Hy het ook onlangs die gesogte Ghoema en ATKV se Afrikoon-toekennings ingepalm.

Sy treffers sluit in Juanita du Plessis se Tussen Woorde, Andriëtte Norman se Sewe Oseane en Pêrel vir ‘n Kroon en Die Lieflinge se As ek sing.

Dit is altyd vir Rudi spesiaal as ‘n regstreekse orkes sy musiek speel.

“Dit is ongelooflik om te sien hoe 70 mense gefokus is om jou skepping op die planke te bring en ek dank God vir my talent,” het Rudi gesê.

Rudi is besig om aan sy nuutste solo-album te werk . Hy beplan om deur die land en wêreld te toer. Om oorsee te gaan toer bly altyd vir hom ‘n hoogtepunt.

Sy eerste solo konsert sedert die begin van die inperking sal op 31 Oktober te Anistémi Bediening plaasvind.

Sy raad aan opkomende sangers en liedjieskrywers: “Sing! Tree op by elke geleentheid wat na jou kant toe kom. Skryf vir kompetisies in. Die regte persoon sal jou raaksien en hoor. Talent wen altyd. Werk aan jou profiel, besluit wat jou beeld en gevoel is en wat jou laat uitstaan. Weet wie jy is. Dit is die enigste manier hoe jy ‘n eerlike onderhoud kan gee en uniek op die verhoog kan wees.”

Meer oor die talentvolle musikant:
• Rudi woon al vir omtrent ses jaar in Rynfield en is lief vir Benoni en sy mense. Die liefde van sy lewe woon en werk in Benoni, daarom het hy in 2005 ‘n studio in die omgewing oopgemaak.
• As natuurliefhebber is hy lief vir die wind en die reën en dit inspireer hom. Rudi ly an bipolêre gemoedsversteuring en depressie en sommige dae is donker vir hom. Wanneer hy sukkel om kreatief te wees, gaan sit hy in ‘n koffiewinkel en verkyk hy hom aan ander mense.
• Hy droom daarvan om in die toekoms saam met befaamde kunstenaars soos Celine Dion en Leona Lewis te werk.
• Rudi is die jongste van twee kinders en is baie geheg aan sy suster, Anzel.

LEES OOK: Afrikaans authors come alive

LEES OOK: Lewensentrum reik uit met die hulp van Checkers

   

Related Articles

Back to top button