Local newsNews

Tannie Poppie groet Ons Eie Kleuterskool na 45 jaar

Die hoogtepunt van haar loopbaan was om pannekoek te bak vir die kleuterskool se jaarlikse pretdag

As jy van jou beroep hou sal jy nooit ‘n dag in jou lewe hoef te werk nie. Dit is die geval met Poppie Hofmeyr (76) wat onlangs ‘n merkwaardige loopbaan van 45 jaar as administratiewe beampte by Ons Eie Kleuterskool, in Airfield, vaarwel toegeroep het.

Hofmeyr het in 1976 by die kleuterskool aangesluit en haar tydelike pos het gou na ‘n permanente algemene sekretariële pos verander. Sy het vir dekades ‘n ysterhand oor die skool se administratiewe sake gehad maar het verlede jaar op die kleuterskool se aankope gefokus.

“Dit was maar my roeping gewees,” het die Rynfield-inwoner aan die City Times vertel. Juis daarom was dit vir haar ‘n moeilike besluit om na al die gelukkige jare by die skool af te tree. As dit nie vir die pandemie was nie, sou ek vir seker nog ‘n jaar of twee by Ons Eie Kleuterskool wou aanbly. Ek is nog heel aan die gang en ek het gewik en geweeg of ek moet terugkeer.

“Daarna het ek die hoof geraadpleeg en ons het besluit dat die risiko net te groot sou wees. Die koronavirus is baie gevaarlik vir mense van my ouderdom en ek is veral bekommerd oor my man, Marius, se veiligheid wat in gedrang kan wees. Dit is vir my vreeslik hartseer dat ek my loopbaan juis nou moet beëindig. Ek kon nie eers my kollegas en kinders behoorlik groet nie.

“Ek kon basies net vir almal ‘n boodskap op WhatsApp stuur, maar ek het darem die mooiste wense terug ontvang. Ek gaan almal baie mis. Ons Eie Kleuterskool lê my baie na aan die hart en selfs vyf van my kleinkinders was in die skool.

“Vir my was die hoogtepunt van my loopbaan was om pannekoek te bak vir die kleuterskool se jaarlikse pretdag,” het Poppie gesê, wat die grootste gedeelte van haar lewe in Benoni woonagtig was. Sy sien uit na ‘n rustige aftrede tuis en beplan om haarself met naaldwerk besig te hou.

Volgens Naomi Geeringh, hoof van die kleuterskool, sal almal by Ons Eie Kleuterskool Hofmeyr onthou vir haar eindelose geduld en liefde. Sy het elke jaar elke kind en elke ouer se naam geken. Menigte ouers wat kleuters was terwyl tannie Poppie hier was, se kinders het ook die kleuterskool bygewoon in haar tyd.

“Vir 45 jaar het tannie Poppie elke dag met n glimlag werk toe gekom. As sy ‘n dag gemis het, kon ons weet daar was ‘n baie goeie rede daarvoor,” het Geeringh gesê. “Haar werk was altyd presies en haar beplanning is lank voor die tyd gedoen. Sy het presies geweet waar alles gebêre is, selfs in die argiewe.

“Poppie se hande het vir niks verkeerd gestaan nie. As daar pannekoek gebak moet word of tafeldoeke gemaak moes word, het sy eerste in die ry gestaan. Elke personeellid wat saam met haar gewerk het, kan getuig van vriendskap, respek en liefde.

“Sy en haar man, Marius, het hul lewe gewy aan die skool. Marius was ook vir baie jare op die bestuursraad van Ons Eie Kleuterskool. Die skool is volgende jaar 50 jaar oud en sy sal beslis genooi word vir die feesviering. Vir hulle twee is die woord dankie heeltemal te klein, maar dankie Poppie en Marius vir onbaatsugtige toewyding en oneindige liefde – staan opsy, hier gaan ‘n groot gees verby,” het die hoof gesê.

LEES OOK: 

Ons Eie Kleuterskool children show love to SPCA

LEES OOK: 

Oom Peet is nog gelukkig met aftrede

Related Articles

Back to top button