KYK: David en Bianca praat oor hulle nuuste enkelsnit

Die paartjie het by Thabo Eco Hotel, die Glen-winkelsentrum en ’n tennisbaan naby hulle huis verfilm om lewe te gee aan hulle storie.

Die bekende lieflingspaar van Winchester Hills, Bianca le Grange en David Johnson, het beslis geen bekendstelling in vermaakkringe nodig nie. 

Hierdie dinamiese duo is gewoond daaraan om saam te werk en het pas ’n splinternuwe enkelsnit uitgereik.  Ek baklei vir jou is ’n Afrikaanse popsnit wat gaan oor verlief wees en hoe ’n mens mekaar moet ondersteun en vir mekaar moet baklei wanneer jy in ’n verhouding is. 

Nuuste enkelsnit en musiekvideo

Hierdie liedjie, uit die pen van Theunis Duvenage, het dadelik aanklank by die paartjie gevind. Die paartjie glo dat hierdie vrolike, goedvoel snit gewild gaan wees onder oud en jonk. 

Die musiekvideo van die enkelsnit is ook reeds beskikbaar en is deur DWB Produksies, wat Bianca en David gedurende grendeltyd gestig het, vervaardig en vang ’n paartjie se herinneringe vas van toe hulle net ontmoet het. 

“Die oorspronklike idee om tieners te gebruik om die storie te vertel uit die oogpunt van skoolliefdes was David s’n,” het Bianca verduidelik.  “Ons het die idee gebruik, maar besluit dat die tieners jonger weergawes van onsself moes verteenwoordig.” 

Die paartjie het by Thabo Eco Hotel, die Glen-winkelsentrum en ’n tennisbaan naby hulle huis verfilm om lewe te gee aan hulle storie.

Alhoewel Bianca en David albei suksesvolle kunstenaars in eie reg is, het hulle ook al gereeld die verhoog en skerm met mekaar gedeel. 

Bianca le Grange en David Johnson vier binnekort hulle vyfde huweliksherdenking. (Foto: Deon Coetzee)

Meer oor Bianca en David

Bianca het reeds op ’n jong ouderdom begin sing, maar dit was eers na haar deelname aan Idols SA in 2002 wat haar musiekloopbaan regtig vlam gevat het. Die Ek Verlang-ster hou van jazz en klassieke musiek en het by die Nasionale Skool vir die Kunste studeer, waar sy die klavier en viool bemeester het.

David het weer grootgeword met kletsrymmusiek en is lief vir slim lirieke. Hy was ook mal daaroor om te sing toe hy klein was en was selfs op universiteit in die musiekgroep Polaroid voordat hy ernstig op toneelspel begin fokus het.

Dit is algemene kennis dat ’n loopbaan in die vermaakbedryf baie uitdagings kan bied en dié paartjie is konstant besig om nuwe maniere te vind om kreatief en geïnspireerd te bly. 

Bianca het, byvoorbeeld, ook begin toneelspeel, terwyl David – wat ’n gewilde gesig op die kassie is in sepies soos Getroud met Rugby en 7de Laan – musiek as ’n kreatiewe uitlaatklep gebruik.

“Om suksesvol te wees in die vermaakbedryf moet jy in jouself glo en aanvaar dat nie almal van jou gaan hou nie,” het hulle gesê.  “Selfvertroue in die vermaakbedryf is ’n dun lyn wat jy moet loop – om nie parmantig oor te kom as jy in jouself glo nie en ook nie te nederig te wees oor jou talent nie.”

Bianca en David vier binnekort hulle vyfde huweliksherdenking en volgens hulle kon hulle dit nie op ‘n beter manier vier as met ‘n liefdesliedjie nie.

Die bekende lieflingpaar, Bianca le Grange en David Johnson. (Foto: Deon Coetzee)

“Dit is ons vyfde huweliksherdenking in Desember. Ek baklei vir jou het baie spesiale betekenis vir ons, omdat dit ons inspireer om nooit op te gee op ons liefde nie en saam ons drome te volg.

“Ons baklei vir mekaar elke dag, net soos die liedjie sê,” het hulle gesê.

In David se vrye tyd hou hy daarvan om te braai saam familie en vriende en hy spandeer graag tyd saam met sy vrou. 

Bianca gebruik haar vrye tyd om nuwe resepte uit te toets.

“Ek hou van kos en ek probeer altyd nuwe resepte uit en David moet net alles proe,” het sy gesê.

Sy spandeer ook kwaliteit tyd saam met haar beste vriende en familie.

“Ek hou ook van stap en kyk meestal na reekse met ‘n aangrypende verhaallyn op Netflix of Showmax.”

Op die vraag van wie inspireer hulle het David gesê dat die wêreld hom inspireer en Bianca het weer gesê dat haar kinderdrome om ‘n superster te wees haar inspireer.

David Johnson en Bianca le Grange is baie opgewonde oor hulle nuuste enkelsnit, Ek baklei vir jou. (Foto: Deon Coetzee)

Kyk uit vir hulle

Hou Bianca en David dop op hulle verskeie sosiale media platforms.

“Ons gaan ook ‘n Kersfeesvertoning in Desember hou en aanhangers kan gerus na dit kyk op ons sosiale platforms. Daar sal goeie musiek wees en ook awesome giveaways. Dit beloof om enige iemand in die Christmas spirit te sit,” het Bianca en David vertel.

Ek baklei vir jou is nou beskikbaar op alle aanlynplatforms.

Exit mobile version