Afrikaanse lekkerte saam met Lizz

Lizz 35 was ’n klets en skets solostuk waarin Lizz vertel het van die woelinge en waansin, die tragiedies en triomfe, die chaos en kreatiwiteit, die beroemdes en die berugtes, die vreugdes en die vertwyfelings van ’n lewe as aktrise.

LIZZ 35, ’n Afrikaanse produksie, was 23 September by die Vista del Monte in Albertoon-Noord aangebied.

Soos Lizz Meiring aangekondig het: “Ek bring teater na julle voorstoep! Dit is ’n eerste vir Albeterton, ’n kans wat ek waag, want ek wil julle in jul eie omgewing kom vermaak.”

En Lizz het Albertonners inderdaad kom vermaak met haar ongelooflike talent, skreeusnaakse sêdinge en liefdevolle persoonlikheid.

Lizz is vanjaar 35 jaar in die vermaaklikheidbedryf as aktrise, regisseur, skrywer, stemkunstenaar, vervaardiger en TV aanbieder.

Van Lady Macbeth tot ’n singende Australiese “pop-up toaster”, Lizz het al vele rolle vertolk.

Bykans 2 000 produksies later voel sy steeds onverdund hartstogtelik oor haar beroep en die meelopers in die uitvoerende kunste.

Lizz 35 was ’n klets en skets solostuk waarin Lizz vertel het van die woelinge en waansin, die tragiedies en triomfe, die chaos en kreatiwiteit, die beroemdes en die berugtes, die vreugdes en die vertwyfelings van ’n lewe as aktrise.

Aan die gehoor het sy die ver paaie se reis – plaaslik en internasionaal, die vreemde kleedkamers, verhoë, film- en TV-stelle, die soms vreemde gedrag van gehore, luisteraars, kykers en bewonderaars onthul.

’n Stroom karakters uit haar skeppende skatkis het hulle opwagtings gemaak – vars, slim, snaaks en soms meer ernstig.

Dit was oorspronklik, deernisvol en uieindelik die storie van oorlewing en belewing. ’n Verhaal van aanslaë, gelukskote, opslae en wenslae van die lewe waarmee elkeen kon identifiseer.

Na 35 jaar in die bedryf, gee Lizz steeds met hart en siel.

Margit Meyer-Rödenbeck sê oor Lizz: “As ek haar vinnig moet opsom: Energizer bunny. Daar is geen einde aan Lizz Meiring se energie, haar entoesiasme, haar slimheid en haar wysheid nie.

“Ek sal graag in haar brein wil klim, want ek dink dit is uiters deurmekaar en gesorteer op dieselfde tyd.

“Lizz Meiring se hart is so ruim. Sy sal oplaai en oplaai en oplaai. En as daar ’n boete uitgeskryf word vir oorlading, sal sy hom nog betaal ook.”

So het Lizz elkeen teenwoordig in haar hart gelaai en lekker na die opvoering met teatergangers gesels.

“Na 35 jaar in die bedryf is daar sekere dinge wat ’n mens onwrikbaar weet. Een van daardie dinge is dat geen talent op aarde professionaliteit, goeie maniere, konsiderasie en basiese ordentlikheid kan vervang nie.

“Een van my waarnemings oor die jare is: hoe kleiner die talent, hoe groter die ego en hoe groter die talent, hoe minder die ego,” het Lizz gesê.

Uit die lekker kuier kan mens aflei dit is ook hoe elke Albertoner haar ervaar het – sy is ’n vrou wat plat op die aarde is, vol ongelooflike vriendelikheid, nederigheid, medelye en liefde vir haar medemens, en natuurlik, teater uit die boonste rakke.

Die gehoor is voor die optrede bederf met liedjies gesing deur die talentvolle Eugene Nel. Daar was ook heerlike lasagne en verfrissende drankies bedien.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button