EntertainmentLifestyle

Nog ’n goue album vir musiekduo

Touch of Class se nuutste album het onlangs goue status bereik.

TOUCH of Class het gedurende Maart hulle dubbel-album, getiteld, ‘100 Duisend Perde’, uitgereik en het goue status verkope binne vyf maande bereik.

Die groep, met oorspronklike lede Deon van der Merwe en Ronell Erasmus, het in 1985 ontstaan en was aanvanklik ook die begeleidende orkes vir Anneli van Rooyen, Manuel Escorcio en André Schwartz.

Hulle album, ‘Ek en my meisie’, wat gedurende 1992 die lig gesien het, het goue status bereik met 25 000 eenhede verkoop en het twee jaar later ook platinumstatus bereik. Verskeie goue albums het gevolg, waaronder ‘Bamboesbos’, ‘Stamp daai bene’ en ‘Moenie worrie nie’.

Na 23 jaar saam, het Ronell in 2011 besluit om haar slegs op haar geestelike loopbaan toe te spits. Gedurende hierdie tyd het Ruhan du Toit by Touch of Class aangesluit en tot op hede het hy en Deon reeds 11 albums saam voltooi.

Ruhan sing reeds van kleins af en het sy eerste album opgeneem toe hy 10 was. Op skool, het hy sowat 150 optredes per jaar behartig en aan talle musiekblyspele en ander konserte deelgeneem. Voordat hy by die groep aangesluit het, het hy vier solo-albums opgeneem en twee duetalbums saam met sy broer. Ruhan en Deon het besluit om Touch of Class in ’n nuwe rigting te stuur deur die gewone ‘tong-in-die-kies-liedjies’ te verander na ’n meer kontemporêre klank, met lirieke wat dieper betekenis het en met die hart praat. “Ons streef nogsteeds na veelsydigheid en het ’n energieke vermaaklikheidsfaktor, met Deon wat sy instrumentele vernuf ten toon stel op alles – van die elektriese kitaar tot die mandolien. Ruhan se veelsydige stem, wat oor meer as drie oktawe strek en van klassiek tot klassieke rock kan sing, help ons om aanklank te vind by die meeste gehore,” het hulle vertel.

Vroeër vanjaar het die groep ’n splinternuwe album vrygestel met die naam ‘100 Duisend Perde’, wat tans die nommer ses posisie beklee op RSG se Top20 en binne slegs ’n paar maande goue status bereik het.

Kyk die video hier:

Die nuutste enkelsnit, ‘Sal jy my stem kan hoor’, is pas bekendgestel en is reeds ’n gunsteling tydens optredes. “Mense, wat na die tyd met ons kom gesels, vra almal uit oor die liedjie en wil weet waar hulle dit kan kry,” het Deon gesê. Hierdie goedvoel-liefdesliedjie, uit die pen van Arri Opperman, is spesiaal geskryf om Ruhan se stem op sy beste te laat vertoon en sodoende word die sterk lirieke eg en treffend oorgedra. “’Sal jy my stem kan hoor’ wyk af van die gewone ‘bokkie-baby’ genre en is meer digterlik. Alhoewel die ritme steeds sterk en polsend is, is die melodieë harmonieus inmekaar verweef, sodat dit net so lekker luister as wat dit dans. Die lirieke is betekenisvol en sal luisteraars ’n bietjie laat nadink oor die onderwerp,” het hy verder verklap.

Die boodskap van die nuwe dubbel-album is: “Ek is trots op my taal, my lewensfilosofie, waardes en herkoms!” Die album word bemark en versprei deur Coleske Artists en Paulo Azevedo en Arnold Coleske het ook waardevolle insette gelewer ten opsigte van die produksie en meng van die materiaal. Hierdie nuutste toevoeging, tot die skatkis van Suid-Afrikaanse musiek, is ’n móét vir elke musiekliefhebber se rak.

*Verskaf deur Alishia van Deventer van Starburst Promotions.

U mag ook belangstel in:

*albertonrecord.co.za/116332/kerry-lee-stel-haar-nuwe-album-vry/;

*albertonrecord.co.za/…/charlize-berg-stel-haar-nuwe-album-vry/

 

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier:079 404 5789.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button