Jongman praat die wêreld aan die brand

Redenaars is sy passie.

GUSTAV Prinsloo (18) van Hoërskool Marais Viljoen is op 12 Augustus tydens die ATKV Redenaarskompetisie se landsfinale rondte as die algehele wenner in die kategorie vir voorbereide toesprake in Afrikaans huistaal grade 10 tot 12, aangewys.

Hy is ook aangewys as die beste taalgebruiker in hierdie kategorie. Hy doen redenaars al vir 12 jaar lank en het in graad een die eerste keer aan ’n redenaarskompetisie deelgeneem. In 2015 was hy ook as die wenner van die Nasionale Radikale Redenaarskompetisie aangewys en het hy as individueel deelgeneem. Gustav neem ook boonop aan spanredenaars deel. Tydens die Suid-Gauteng se spanredenaars wat op 13 Augustus gehou is, nogals op sy 18de verjaarsdag, het sy span gewen.

Sy toesprake word deur homself, sy ma Dorette en een van sy onderwysers, Sarie du Preez geskryf. “My ma sit baie moeite in met my toesprake en doen deeglike navorsing. Dit neem haar tot ’n maand om ’n finale toespraak klaar te hê,” het hy gesê.

Gustav het aan die REKORD gesê dat dit hom bykans ’n week vat om sy toespraak te ken en hy loop rond terwyl hy die toespraak opsê. Vanjaar se tema was ‘Jy hunker terug na die vleispotte van Egipte’; en hy het oor ‘Die man is ’n bedreigde spesie’; gepraat. “Redenaars is ’n spanpoging, want sonder my ma, my onderwyser en God kan dit nie gedoen word nie.” Volgens hom is dit ’n gawe van God dat hy so goed presteer in redenaars. Sy pa Fanie ondersteun hom ook baie en mis nie een van sy redenaarskompetisies nie.

Met ’n glimlag op sy gesig het hy gesê dat hy baie stres voor hy op die verhoog gaan, maar dan help sy ma hom kalmeer en hy bid ook elke keer voor hy opgaan. “Redenaars het my passie geword en ek het lief geraak vir dit. Afrikaans is vir my so ’n mooi en unieke taal en ek is trots om dit te kan praat,” het Gustav vertel.

Hy presteer ook akademies goed en is ook die onderhoofseun van sy skool. Verlede jaar het hy ’n wit erebaadjie ontvang omdat hy as die Suid-Afrikaanse redenaarswenner aangekondig is. Sy raad aan jongmense wat dalk eendag redenaars oorweeg is dat hulle net in hulself moet glo en uithouvermoë moet hê.

BAIE TROTS: Die Hoërskool Marais Viljoen is ongelooflik trots op Gustav Prinsloo, wat op 12 Augustus as die algehele wenner in die kategorie vir voorbereide toesprake in Afrikaans huistaal grade 10 tot 12, aangewys is. Hy het aan die ATKV Redenaarskompetisie se landsfinale rondte deelgeneem en is ook aangewys as die beste taalgebruiker in hierdie kategorie.
BAIE TROTS: Die Hoërskool Marais Viljoen is ongelooflik trots op Gustav Prinsloo, wat op 12 Augustus as die algehele wenner in die kategorie vir voorbereide toesprake in Afrikaans huistaal grade 10 tot 12, aangewys is. Hy het aan die ATKV Redenaarskompetisie se landsfinale rondte deelgeneem en is ook aangewys as die beste taalgebruiker in hierdie kategorie.

Hy en sy gesin bly al vir 17 jaar lank op Alberton en sy ma gee al vir 20 jaar skool. Hy het ook ’n boetie van 12-jaar-oud, Alexander. In sy vrye tyd hou hy daarvan om sosiaal te verkeer. “Ek kan nie stilsit nie.” Sy stokperdjies is aanlyn rekenaarspeletjies, oefen in die gimnasium en hy speel ook graag kitaar.

Sy doelwitte is om matriek goed deur te kom en dan om net altyd ’n positiewe jongman te wees.

Gustav het op die vraag van wie hom inspireer, direk na sy ma gekyk en gesê dat dit sy is. “Syt ’n ‘gladdebek’ en dit help my baie om meer gemaklik te wees. Sy ondersteun my in alles en was nog altyd daar vir my. Sy gee baie van haar tyd op om my te help sodat ek die beste toesprake kan hê,” het hy gesê.

Na skool gaan Gustav by die Noordwes Universiteit (NWU) Potchefstroomkampus aansluit en BSc IT studeer. Hy’t alreeds keuring gekry. “Ek sien baie uit en dit is weer ’n nuwe bladsy in my lewensboek.” Sy lewensmotto is: “Moet nie dat ander se opinies bepaal hoe jy lewe nie.”

Gustav het homself beskryf as ’n vriendelike ou wat nie van konflik hou nie en altyd die vrede probeer bewaar. Hy is definitief een jongman met ’n positiewe uitkyk op die lewe en een met ’n blink toekoms wat op hom wag.

 

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

Add us on WhatsApp today! Comaro Chronicle: 079 427 8074 and Southern Courier:079 404 5789.

Related Articles

 
Back to top button