Zoid en Van Coke saam op een verhoog

Toe vind ek jou met Karen Zoid en Francois van Coke was uitverkoop by Carnival City.

DIE Toe Vind Ek Jou-vertoning met Karen Zoid en Francois van Coke wat op Vrydag 8 Julie by Carnival City plaasgevind het, was seker een van die beste vertonings nog. Die Big Top Arena was volgepak met oud en jonk reg om saam met Karen en Francois te sing. Geen mens kan die oomblik toe hulle op die verhoog opgekom het, beskryf nie. Dit was net asemrowend. Die bekende band, Spoegwolf, het met die voorvertoning reeds die gehoor op hulle voete gehad. Spoegwolf is ’n Afrikaanse musiekgroep van die Paarl wat in Februarie 2012 gestig is. Die viermanskap, wat bestaan uit Danie du Toit (sang en kitaar), Chris von Wielligh (kitaar en sang), Moskou du Toit (tromme, perkussie en sang) en Albert van der Merwe (baskitaar en sang), is veral bekend vir die liedjie ‘Lenie Blou’, wat op hulle eerste vollengte album, ‘Swaartekrag’, verskyn het.

Die vertoning was aangebied deur Lefra Produksies met die vriendelike samewerking van Stuttaford van Lines, RSG, McCarthy Volkswagen Arcadia en Carnival City. Frans Swart, hoof uitvoerende beampte van Lefra Produksies, het gesê hy is baie opgewonde omdat die vertoning uitverkoop was. “Ons het besluit om twee groot arena vertonings met hierdie wonderlike kunstenaars te doen – een in Kaapstad en een in Johannesburg by Carnival City. Dit is ’n wonderlike produksie. Met die Kaapstad vertoning het ek gesê dat dit soos ’n ongelooflike mooi kunswerk vir my was.” Swart het ook gesê dat daar moontlik nog Toe Vind Ek Jou-vertonings sal wees.

“Ons beplan om ten minste nog twee groot arena vertonings in Gauteng te doen, want die aanvraag is ongelooflik groot. Daar sal binnekort ’n aankondiging gemaak word oor waar die ander groot arena vertonings sal plaasvind.”

In April 2015 het Francois en Karen seker die mooiste ballade van alle tye, ‘Toe Vind Ek Jou’, vrygestel. Die liedjie het almal reg oor die land begeester en het verskeie ligte aangeskakel in die donker. ‘Toe vind ek jou’ het die eerste Afrikaanse vrystelling geword om die nommer een posisie op kommersiële radio in Suid-Afrika te haal. Die musiekvideo het ongelooflike sukses behaal en is reeds meer as ’n miljoen keer na gekyk op YouTube. Nou het gehore die geleentheid gehad om hierdie twee legendes saam op een verhoog te kon sien. Die land kan nie wag vir nog sulke tipe vertonings nie. Nie net het hulle die wentreffer gesing nie, maar ook ander liedjies soos ‘Behoort Aan Niemand Nie’ en ‘Meisie Wat Haar Potlood Kou’. Tydens die vertoning het Karen ook vir Anina van Wyngaard na die verhoog geroep en vir haar ‘As Musiek Begin Speel’ gesing. Karen het haar as ’n sterk vrou beskryf wat tans kanker beveg. Karen het ook gesê dat Francois ’n pa gaan word.

Kyk die ‘Toe Vind Ek Jou’ video hier:

Meer oor Spoegwolf:

“Ons is broers en pelle wat ’n band gestig het,” gesels die manne. Moskou en Danie is broers, Albert is Danie se beste vriend, en Chris is ’n boesemvriend van die hele groep. “Ons was almal saam op skool en het saam ge-bunk op Paardeberg, waar baie van ons planne ook gemaak is.” Op hulle webwerf praat hulle van hulle musiek as “regte Afrikaans” oftewel musiek wat geskryf word met eerlikheid. Die Volksblad beskryf hulle musiek as sielvolle rock wat Afrikaans vier. Hulle lirieke is poëties, en die musiek hard. Hulle tweede album, ‘Somer’, is verlede jaar vrygestel na twee jaar se harde werk. “Daar word moeite gedoen met die lirieke. Dit vorm die basis van wat jy wil oordra,” vertel hulle. En natuurlik, die vraag op almal se lippe: hoekom Spoegwolf? “Ons het gehou van die klank daarvan. Dis hard, maar dit vloek nie. Ons het gedink dit is ’n sterk, maar herkenbare naam.”

 

 

 

Exit mobile version