EntertainmentLifestyle

Henrico Coetzer stel enkelsnit vry

Henrico Coetzer se nuwe enkelsnit, Soos Reën, was op Maandag, 23 Mei, vrygestel.

HENRICO Coetzer se nuwe enkelsnit, Soos Reën, is op Maandag, 23 Mei, vrygestel.

Daar was geen twyfel dat Henrico (23) die één is wat hierdie nuwe liedjie moet sing nie. Só het die bekroonde sanger, Joshua Na Die Reën, gedink toe hy die nuweling van Pretoria die eerste keer hoor sing.

Henrico het nie gras onder sy voete laat groei nie en dadellik ingestem. ‘n Paar weke later was hy in die opname ateljee en kort daarna is die nuwe treffer amptelik vrygestel.

“Dis ‘n voorreg as iemand met ‘n mooi stem ‘n liedjie wil sing wat ek geskryf het. Henrico is iemand wat baie kan toevoeg tot die Afrikaanse musiekbedryf,” sê Joshua Na Die Reën.

Vir Henrico was dit ‘n groot eer om die liedjie te sing. Hy het sangopleiding by die sanger Chris Coetzer (Drie Tenore) ontvang en, sedert hy 18 jaar oud is, open hy gereeld vertonings vir gewilde sangers soos Bobby van Jaarsveld, sy sussie Karlien, Theuns Jordaan en Corlea Botha, om maar net ‘n paar te noem.

Dit is juis by een van Bobby se vertonings dat sy pad met Joshua Na Die Reën gekruis het. By dié spesifieke vertoning het Joshua Na Die Reën vir Bobby op klavier begelei en dadelik notisie van Henrico geneem.

“Ek was oppad huis toe en, toe ek weer sien, klop hy aan my kar se venster,” vertel Henrico.

”Ek het oopgemaak en toe vertel hy my dat hy ‘n nuwe liedjie geskryf het, Soos Reën, en hy dink dit sal perfek werk met my stem.”

As kannetjie van vyf het hy sy ouers al gewaarsku – sing gaan hy eendag sing. En dié eendag is nou.

“Dis my passie en al wat ek nog altyd wou doen,” vertel Henrico, wat as kind gereeld vertonings aanmekaar gesit het. Dan het hy en sy sussie dit vir die familie opgevoer.

“Talente word nie sommer net vir jou gegee nie; dis jou verantwoordelikheid om dit te ontwikkel en te gebruik,” sê hy.

Buiten sing is die ding wat hom regtig gelukkig maak om ander te help.

“Ek glo dis belangrik om jou deel vir liefdadigheid te doen en ek probeer om elke nou en dan iewers ‘n show te doen,” vertel hy.

En so dóén hy gereeld, veral by die Cansa aflosmarathonne, waar hy die man is wat almal se lam bene aan die gang hou tot by die eindstreep.

Liefhebbers van die gewilde Blouhond teater, in Pretoria, sal hom ook herken, aangesien hy gereeld daar optree. Hy was ook deel van die ensamble in die musiekblyspel, Droomkind, waarin Bobby van Jaarsveld die hoofrol vertolk het.

Luister hier na ‘n lusmaker van Soos Reën: https://soundcloud.com/starburstpromotions/henrico-coetzer-soos-reen-teaser

*Verskaf deur Alishia van Deventer van Starburst Promotions (Geredigeer).

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button