Nuwe drama op die silwerdoek

Die fliek kombineer die tema van ’n gebroke verhouding met dié van die Grensoorlog.

DIE amptelike lokprent vir die unieke Suid-Afrikaanse film, ‘My Father’s War’, is op 3 Junie om 12:00 bekendgestel.

Hierdie tweetalige (Afrikaanse/Engelse) drama fokus op die gebroke verhouding tussen ’n pa en sy rebelse tienerseun.

Die film speel in 2003 af en die 19-jarige Dap Smit (Edwin van der Walt), baklei aanhoudend met sy pa, Dawid (Stian Bam), ’n veteraan van die Grensoorlog. Die mans stem oor niks saam nie en daar is klaarblyklik geen hoop op versoening tussen hulle nie. Boonop is Dawid se vrou, Karina (Erica Wessels), in die middel van hul epiese worsteling vasgevang.

Dan kry Dap ’n reeks drome waarin hy ’n gevegsoldaat tydens die Grensoorlog in die 1980’s is. Daar ontmoet hy sy pa op sy ouderdom, en hierdie drome verander Dap se persepsie – en lewe – heeltemal. Daar is nie terugkeer nie. Maar wat is die pad vorentoe?

Edwin van der Walt sê dat hierdie vir hom ’n baie persoonlike film is en dat hy self baie geleer het oor liefde, verhoudings en die waarheid. “Dit vorm deel van ’n seisoen in my lewe en om saam met my mentor, Stian Bam, te kon speel was en sal altyd vir my ’n hoogtepunt bly. Dit was ’n baie uitdagende proses, maar ongelooflik verrykend. Craig Gardner (regisseur) het ons goed op ons tone gehou en gereeld poetse gebak, maar wanneer ons gewerk het, het almal 120 persent gegee.”

Edwin het sy hoop en verwagting vir die film as volg beskryf: “Ek hoop en glo dat die film ’n stap in die regte rigting kan wees vir mense om persoonlike verhoudings gesond te maak. Voordat ’n wond kan genees moet hy eers rou wees. Ek hoop almal leer meer oor die Grensoorlog en die effek wat dit op ons oupas, broers en pa’s gehad het.”

“Ek hoop my eie pa, wat ook deel was van die Grensoorlog, kan soos ’n held voel wanneer hy daarna kyk.”

Die film kombineer die tema van ’n gebroke verhouding met dié van die Grensoorlog. Droomtonele is geskep en oorbrug die gaping selfs al het die oorlog feitlik 30 jaar gelede plaasgevind.

‘My Father’s War’ word op 5 Augustus landswyd in filmteaters vrygestel en word vervaardig deur Lion Mountain Films en uitgereik deur Ster-Kinekor Entertainment.

Kyk die lokprent hier: https://www.youtube.com/watch?v=1qvfCPYf_yc

*Verskaf deur Alicia van Deventer, Starburst Promotions.

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Alberton RecordComaro ChronicleSouthern Courier and Get it Joburg South Magazine.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on cvdwalt@caxton.co.zajuliem@caxton.co.za or luckyt@caxton.co.za

 

Exit mobile version