EntertainmentLifestyle

Afrikaanse filmbedryf kóók

'My Father’s War', ’n unieke nuwe Suid-Afrikaanse film, word landswyd op 5 Augustus vrygestel.

‘MY Father’s War’, ’n unieke nuwe Suid-Afrikaanse film, word landswyd op 5 Augustus vrygestel.

Hierdie tweetalige (Afrikaanse/Engelse) drama fokus op die gebroke verhouding tussen ’n pa en sy rebelse tienerseun.

Die rolprent speel in 2003 af en die 19-jarige Dap Smit (Edwin van der Walt), baklei aanhoudend met sy pa, Dawid (Stian Bam), ’n veteraan van die Grensoorlog. Die mans stem oor niks saam nie en daar is klaarblyklik geen hoop op versoening tussen hulle nie. Boonop is Dawid se vrou, Karina (Erica Wessels) in die middel van hul epiese worsteling vasgevang.

Dan kry Dap ’n reeks drome waarin hy ’n gevegsoldaat tydens die Grensoorlog in die 1980’s is. Daar ontmoet hy sy pa op sy ouderdom, en hierdie drome verander Dap se persepsie – en lewe – heeltemal. Daar is geen terugkeer nie. Maar wat is die pad vorentoe?

Volgens die vervaardiger, Peter Lamberti, en skrywer/regisseur Craig Gardner, was die grootste uitdaging van dié film om die tema van ’n gebroke verhouding met die Grensoorlog te kombineer – met ander woorde, hoe om ’n gaping tussen ’n pa en sy seun te oorkom as die oorlog feitlik 30 jaar gelede plaasgevind het.

En om hierdie uitdaging te oorbrug, het Gardner die belangrike droomtonele geskep. Hy sê: “Elke droom is geskep om die ontvouende storie te onthul. Dus is daar nie enige ongeoorloofde vegtonele nie. Die oorlogsdrome is eerder mikrokosms van regte gebeure wat by fiksie aansluit om óf die karakters óf die storielyn te bevorder – klein ‘mini-stories’ – binne die groter verhaal.”

“Die oorlog is as ’n kreatiewe instrument gebruik om die storie van die pa en seun tot ’n uitkoms te dryf. Ons het met opset nie ’n morele standpunt oor die konflik self gelewer nie. Hierdie is nie ’n Grensoorlog-rolprent nie – dit is ’n verhoudingsdrama, wat die kern van feitlik elke suksesvolle fliek is,” het Gardner verduidelik.

Die filmmakers sê, “Ons hoop om so ’n breë gehoor as moontlik te bereik, maar ons wil ook hê dat elkeen wat deur die oorlog geaffekteer is, soldate, vroue, mans, kinders en ouers, dit sien. Dit sal hopelik ’n katarsiese ondervinding wees wat herinneringe oproep, spoke wegdryf en help om meer begrip vir kykers te gee – selfs diegene wat niks met die oorlog te doen gehad het nie. Enige ouer en kind sal aanklank hierby kan vind op ’n persoonlike vlak.”

Die film word deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button