Vir Altyd stel nuwe rekord

Suid-Afrikaanse romantiese avontuurfilm 'Vir Altyd' het die gesogte nommer een posisie in verdienste by die plaaslike loket vir Afrikaans verbygesteek.

DIE Suid-Afrikaanse romantiese avontuurfilm ‘Vir Altyd’ het die gesogte nommer een posisie in verdienste by die plaaslike loket vir Afrikaanse films verbygesteek.

Dit bewys net weereens dat gehore mal is oor films met ’n opregte boodskap.

Na slegs vier weke op die kringloop, het ‘Vir Altyd’ R13.4 miljoen verdien. ‘Vir Altyd’, wat gemaak is deur dieselfde span van die hoogs suksesvolle ‘Pad na jou Hart’, het vandeesweek loketsyfers oortref, en het die filmmakers nederig en dankbaar gelaat.

“Ons bevestig dat ‘Vir Altyd’ nou die grootste loketinkomste vir ’n Afrikaanse rolprent het. Dit het die loketverdienstes van ‘Liefling’ en ‘Pad na jou Hart’ verbygesteek en staan nou op R13.4 miljoen. Ons is verheug oor dié sukses. Ons wens die vervaardigers en almal betrokke baie geluk met hierdie prestasie. Die rolprent word nog landwyd vertoon,” het Pieter Geldenhuys, die bemarkingsagent vir Ster-Kinekor Entertainment, gesê.

Na die film se sukses, sê Ivan Botha en Donnalee Roberts, skrywers, mede-vervaardigers en hoofspelers van die film: “Dit is vir ons so ’n groot eer en voorreg om hierdie mylpaal te kon bereik. Ons is onbeskryflik dankbaar vir elke persoon wat ‘Vir Altyd’ gaan kyk het, die terugvoer is oorweldigend en ons waardeer dit oneindig baie. Ons hoop werklik dat die ondersteuning van ‘Vir Altyd’ momentum sal bou vir al die opkomende plaaslike films wat hierdie jaar uitgereik word, sodat ons Suid-Afrikaanse filmindustrie net van krag tot krag kan gaan.”

Danie Bester, medevervaardiger van ‘Vir Altyd’ lewer ook die volgende kommentaar oor hierdie mylpaal: “Rekords is daar om gebreek te word. Vir my eerstens, eer dit die prestasie van jou voorgangers en tydgenote en tweedens dien dit as aansporing vir jouself en die span saam met wie jy werk om jou bes en beter te doen. Wat ’n inspirasie om ‘Liefling’ vir so lank te kon volg as ’n baken, wat ’n opwindende voorreg om ’n nuwe mylpaal te kan stel.”

‘Vir Altyd’ is deur 17FilmStreetMedia en The Film Factory vervaardig en is versprei deur Ster-Kinekor Entertainment.

Lees ook:

*https://www.citizen.co.za/alberton-record/80706/afrikaans-movie-to-hit-cinemas/

*https://www.citizen.co.za/alberton-record/96508/vir-altyd-laat-die-rekords-spat/

Exit mobile version