EntertainmentLifestyle

Klipkoppiefees was een groot partytjie

Klipkoppiefees 2015 het almal se stoutste verwagtinge oortref en met 'n toeloop van mense oor die naweek, was dit beslis die grootste een nog!

ALBERTON – Nie alleen was die terrein vanjaar groter nie, maar die gees ook. Oud en jonk het saamgekuier en tot laat gebly om lekker makietie te hou. En toe die sonnetjie begin lang skaduwees trek en uiteindelik kleinkoppie trek, het die komberse, baadjies, mussies en serpe uitgekom – koud was dit beslis, maar die gees was warm.

Vrydag het dinge sommer vroegdag al begin, met die hekke wat oopgemaak het, en feesgangers het lustig gesmul aan die heerlike disse wat voorgesit is.

En, natuurlik was daar tussendeur die gaskunstenaars wat nie teleurgestel het nie. Snotkop en Elvis Blue was oudergewoonte onoortreflik, en die feestelikheid het Vrydag op ‘n hoë noot geeïndig, net om baie mense op Saterdag vir nog meer terug te lok.

Van vroeg tot laat het mense deur die hekke gekom, tussen die stalletjies gedrentel en gestop, gekyk en gekoop. Weer kon niemand sê dat daar nie genoeg verskeidenheid by die kosstalletjies was nie en, teen Saterdag, so teen skemer, het die NG Kerk Alberton-Wes se manne by die Tussen die Klippe kosstal al rugbreek werk gedoen en was 120kg se ribbes iets van die verlede.

Menige Albertonner se dag is gemaak toe Kurt Darren tussen die toeskouers inbeweeg het en al singend ‘n druk of ses uitgedeel het en ewe geduldig vir ”selfies” gestaan het.

Nadine het ‘n jongman of twee se hart warm laat klop, en klein en groot het uit volle bors saamgesing. Emo Adams en sy Band het die partytjie tot laat Saterdagaand aan die gang gehou – en dit is maar net om ‘n klompie van die gaskunstenaars te noem.

Sondag het die fees se eerste gospelfees gesien, en wat ‘n gepaste manier om die 10 jaar van die Klipkoppiefees, wat in hierdie tyd ongekende groei getoon het, af te sluit.

Kortom, dit was beslis weer ‘n fees enig in sy soort, en volgende jaar maak ons weer so.

Vir meer foto’s, besoek gerus die Klipkoppiefees se webwerf: www.klipkoppiefees.co.za

Daar is ook nog fotos op on webwerf:

Kurt Darren

Emo Adams en Band

Feesgangers

Familiefees

Uitstallers

Nadine

4×4

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button