Oom Schalk vertel nou sy stories in Afrikaans

Gesoute akteur en deesdae die karakter oom Wimpie in Binnelanders, is Suid-Afrika se nuwe oom Schalk Lourens, die geliefde karakter wat Herman Charles Bosman jare gelede geskep het.

Oom Schalk Lourens se Mampoerstories is vroeër vanjaar tydens die jaarlikse Clover Aardklop Nasionale Kunstefees bekendgestel, en vir die eerste keer in Afrikaans.

Oom Schalk Lourens se Mampoerstories is verwerk en vertaal deur Frans Swart, wat ook die regie van die produksie hanteer.

Hierdie toneelstuk speel in die Mardi Grasteater by Carnival City af, op Vrydag, 29 Mei om 20:00. Besprekings kan gedoen word deur Computicket te skakel by 0861 915 8000, of bespreek aanlyn by www.computicket.com. Besoek gerus ook www.lefra.com vir meer inligting.

Herman Charles Bosman se oom Schalk Lourens het deur die jare volksbesit geword. Patrick Mynhardt het vir jare oom Schalk Lourens op die verhoog vertolk, maar oom Schalk het nog al die jare Engels gepraat. Vir die eerste keer in die geskiedenis praat hy nou egter Afrikaans.

“Ek het vir jare saam met Patrick Mynhardt gewerk en oom Schalk Lourens het my nog altyd gefasineer,” sê Frans Swart, die regisseur.

“Oom Schalk is ‘n bobaas storieverteller, maar ook ‘n persoon wat die Groot Marico en sy mense baie lief het. Hy is ook baie lief vir mampoer en ook vir meisies.

”Herman Charles Bosman het sy karakter so goed omlyn en sy stories is so goed geskryf dat mens voel of jy in die Groot Marico is.

”Gooi daarby die wonderlike talent van Paul Lückhoff en jy het ‘n trefferproduksie.

Paul verstaan die kuns van storievertel en hy het ‘n transformasie ondergaan en het oom Schalk Lourens geword!”

Oom Schalk Lourens, ’n doodgewone Boer, wat eintlik ’n meester van oorlamse dubbelsinnigheid is, vertel hierdie stories oor die oorloë en liefdes, gelowe en bygelowe, onkunde en wysheid, vooroordele en insigte, deugde en sondes van ’n plattelandse Afrikaanse gemeenskap.

Dié stories, met so ‘n slukkie mampoer op sy tyd, het van die skrywer Herman Charles Bosman ‘n huishoudelike naam gemaak. Hierdie briljante, poëtiese stories is vol satire, sentiment, realisme, romanse, ironie en geïnspireerde gekskeerdery en vir die eerste keer in Afrikaans op die verhoog.

Exit mobile version