Gaskunstenaars uit die boonste rakke by Klipkoppiefees

Wanneer die organiseerders 'n fees soos die Klipkoppiefees aanpak, word alles behoorlik gedoen.

ALBERTON – Vanjaar wag ‘n sterbelaaide program wat jou aandag sal vasgryp, met optredes op ‘n 30m lange verhoog.

Waar daar in 2014 meer as 14 000 mense deur die hekke van die fees is, word vanjaar ‘n toeloop van ongeveer 20 000 deur die loop van die naweek verwag.

Hierdie fees der feeste doen beslis sy naam as gesins- en familiefees gestand, en daarom is gaskunstenaars ook so gekies.

Vrydag is uitgesoek vir die jongerklomp, en Saterdag se program is meer gemik op families. Jy het dus geen verskoning om nie ‘n draai by die fees te maak en jou voete los te laat en jouself net te geniet nie.

Trekpleisters vir Vrydag en Saterdag:

Elvis Blue se suksesvolle loopbaan strek al oor ‘n dekade en hy het begin om naam te maak deur saam met verskeie groepe op te tree. Sy groot breek het gekom toe hy die Suid-Afrikaanse Idols in 2012 gewen het, en daarna was daar net geen keer aan die man nie.

ALOM BEKEND: Elvis Blue is ‘n treffersanger wat by oud en jonk aanklank vind.

Snotkop (Francois Henning) het sy eerste ”demo” op ouderdom 15 opgeneem, en sy eerste Kwaito CD word in 2000 vrygestel. As jy goeie ”rap” geniet is hierdie die een wat jy nie mag misloop nie.

TYD OM TE RAP: Kry jou voete en die partytjie aan die gang saam met Snotkop.

Henk Grimsel het geen bekenstelling nodig nie en is voorwaar een van die veelsydigste kunstenaars. Die afgelope 18 jaar het hy al voor verskeie gehore opgetree, wat oorsese opvoerings, regeringsfunksies voor ministers en presidente en nasionale sport byeenkomste insluit – noem dit, hy was daar. Hy vind aanklank by oud en jonk, met musiek vanaf die ’60s tot hede. Een groot partytjie wag met hom op die verhoog.

Karen Ferreira is bekend as ‘n Idols-vasbyter en Sing!-wenner. Haar genre is geskik vir enige geleentheid – troues, feeste, privaatfunksies en besige kuierplekke. Haar energieke vertonings maak haar immergewild by enige gehoor.

Kurt Darren het beslis geen bekenstelling nodig nie en dit is nou maar net so: wanneer hy op die verhoog opstap begin die party. Treffers soos ”Sê net ja”, ”Meisie-Meisie” en vele ander sal jou voete laat jeuk en oud en jonk laat saamdans.

MUSIEKKAPTEIN: Kurt Darren het geen bekendstelling nodig nie!

Nadine gaan beslis net haar beste opdis wanneer sy haar verskyning maak. As jy eers met Nadine se stem kennis gemaak het, is daar geen omkeer nie.

Wicus van der Merwe se CDs verkoop soos soetkoek en hy het beslis vinnig vir homself naam gemaak op die plaaslike musiekfront. Jy kan verwag om saam met hom te jol op die maat van ”Hie komme ding”, ”Boesmanland”, ”Die Hannetjie” en vele meer.

Emo Adams and Band se loopbaan strek al vir 15 jaar en sluit opvoerings op televisie en op die planke in. Emo, ‘n akteur en sanger, is welbekend vir optredes saam met David Kramer. Hul optrede bring die grapkas, die liedjiemakers, alles saamgepak in ‘n unieke eenheid wie se optrede nie gemis mag word nie.

DINAMIES EN VEELSYDIG: Emo Adams and Band gaan jou lagspiere prikkel.

Die program vir die naweek is as volg:

Vrydag open die hekke om 12:00

16:00 – Lizelle Smith

17:00 – Zane

18:00 – Karen Ferreira

19:00 – Wicus van der Merwe

20:00 – Snotkop

21:00 – Elvis Blue

Na-partytjie met Henk Grimsell.

Besoek deur die dag gerus die biertuin en uitstallers, en laat die jongklomp hulself verloor in die kinderspeelpark.

Toegang R100 en kinders jonger as 12 gratis.

Saterdag skop af met die CMR pretloop om 07:30 en die hekke wat amptelik open om 08:00.

09:00 – 4×4 skattejag wegspring tot 13:00

10:00 – Braaikompetisie

12:00 – Waldo Lotz

13:00 – Nic Stevens

14:00 – Jennifer Zamudio

15:00 – Elvis se seun

16:00 – Christo en Cobus

17:00 – 4×4 skattejag prysuitdeling

17:40 – Wicus van der Merwe

18:30 – Jak de Priester

19:30 – Nadine

20:30 – Kurt Darren

21:30 Emo Adams and Band

Besoek deur die dag weereens die biertuin, ry 4×4 saam met André, geniet die uitstallers se handewerk en natuurlik heerlike eetgoed.

‘N MOET SIEN: Dewald Gous open die gospelfees by die Klipkoppiefees op Sondag, 31 Mei.

Toegang R150 en kinders onder 12 gratis.

Sondag open die hekke om 10:00.

11:00 – Dewald Gouws en vriende

12:00 – Dewald Gouws

13:00 – Adam Barnard

14:00 – Broers

15:00 – Riana Nel

HARTSNARE: Riana Nel se optrede by vanjaar se Klipkoppiefees gospelfees, sal beslis jou hartsnare roer.

Maak so deur die loop van die dag ‘n draai by die stalletjies en natuurlik ook die buitelug-uitstallers. Kindervermaak is regdeur die naweek in die kinderpretpark beskikbaar.

Toegang is R50 en kinders jonger as 12 gratis.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version