EntertainmentLifestyle

Lefra hou oudisies vir ‘My boetie se boetie se baba’

Oudisies vir van die rolle word gehou op Maandag, 17 November en Dinsdag, 18 November in die Pierneefteater.

LEFRA Produksies het Afrikaanse gehore in Suid-Afrika en Namibië die afgelope drie jaar laat skaterlag vir die manewales van Ray Cooney se karakters in die klugte My Vrou se Man se Vrou (2012), My Vrou se Man se Lyk se Tas (2013) en My Boetie se Sussie se Ou (2014).

In 2015 maak Lefra Produksies weer so wanneer Ray en sy seun Michael Cooney se Tom, Dick and Harry die lig gaan sien as My Boetie se Boetie se Baba , die Afrikaanse verwerking deur Suid-Afrika se eie klugkoning, Frans Swart. Soos vorige jare gaan Frans weer die regie van die produksie behartig.

In My Boetie se Boetie se Baba ontmoet ons vir Tom. Hy en sy vrou, Linda, is opgewonde oor die vooruitsig om ‘n baba aan te neem. Al wat nog moet gebeur is ‘n besoek deur die maatskaplike werker, ‘n paar vrae moet beantwoord word en die baba is hulle s’n. Maar dinge werk nie so uit nie. Nie eers naastenby nie. Terwyl Tom ‘n gerespekteerde middelklas bestaan voer, kan dieselfde nie van sy broers, Dirk en Hennie, gesê word nie. Dis nie dat die broers nie na aan mekaar is nie, maar om te sê dat die driemanskap twee-derdes disfunksioneel is, is voor die hand liggend. Dirk het pas teruggekeer van ‘n buurland met gesmokkelde sigarette en brandwyn, en Hennie probeer ‘n kadawer van die hand sit vir geldelike gewin. Om sake te vererger, maak twee onwettige immigrante hul verskyning, die preutse maatskaplike werker daag op en wat volg is histeriese humor in die hoogste versnelling.

“Wat die produksie so ekstra lekker maak, is die werklike interessante situasies waaruit die ‘hoofboetie’ moet kom,” sê Frans. “Sy ander twee broers help natuurlik bitter min, inteendeel kry hulle hom in die moeilikheid.

“Rex Garner het altyd gesê: ‘’n Klug is die mees onrealistiese tonele wat so realisties as moontlik gespeel moet word.’ En dit is My Boetie se Boetie se Baba beslis.”

Oudisies vir van die rolle word gehou op Maandag, 17 November en Dinsdag, 18 November in die Pierneefteater. Die Pierneefteater is in Pretoria, geleë in die hart van die Moot, in die woongebied Villieria in Mogg-laan. Van die stad se kant af, is die teater reg agter die Uniegebou. Ons ontvang graag aansoeke vir die volgende rolle:

1. Tom – ‘n aangename en vriendelike jong man in sy laat twintigs/vroeë dertigs.

2. Linda – Tom se vrou, in haar laat twintigs, aantreklik, slim en flink.

3. Dirk – Tom se dierbare dog skelm broer, laat twintings/vroeë dertigs.

4. Hennie – Tom se ander broer, geniaal maar effens dof.

5. Katerina – ‘n onwettige Oos-Europese immigrant. Sy is swak geklee maar aantreklik, het baie selfvertroue en kan gevaarlik wees.

6. Andreas – ‘n Oos-Europese immigrant van by die tagtig jaar, klein en geboë.

7. Konstabel Downs – ‘n hartlike polisieman in sy veertigs.

8. Mevrou Potter – ‘n Formidabele dame in haar vroeë vyftigs.

9. Boris – ‘n fris Oos-Europese man rondom veertig. Baie deftig aangetrek.

Die handeling vind plaas een oggend net na 09:00 in Tom en Linda se woonstel in Johannesburg, met die tyd wat aanstap soos die toneel vorder. Die immigrante het in Johannesburg aangeland via Zimbabwe. Die woonstel is ‘n ou herehuis in een van die stad se meer gevestigde buurte wat intussen in twee woonstelle omskep is.

Akteurs wat oudisies wil kom aflê, kan gerus hulle CV’s aanstuur aan admin@lefra.com of faks na 086 619 0442. Nie alle aansoeke gaan outomaties genooi word vir die oudisie nie, maar slegs diegene wat ons geidentifiseer het. Jy sal gekontak word indien jy vir ‘n oudisie genooi word. Vir meer inligting skakel Charl Senekal by 011 815 3000.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button