Alberton HistoryFeaturesLifestyle

Die rugby Lombards

Die straat praat se Maart 1968 uitgawe dra die Lombards se storie wat in 1907 van Germiston na Alberton per ossewa gekom het.

ALBERTON – In ‘n reeks rubrieke “Die straat praat” van Abie Moller in die Alberton Courier gedurende 1968, vertel JH Lombaard van Gerrit Maritzstraat 33 in die Maart 1968 uitgawe die Lombards se storie wat in 1907 van Germiston na Alberton per ossewa gekom het. Ook die eerste dae van die Alberton Government School op Laerskool President Steyn se gronde in Januarie 1908 word kleurvol vertel.

Uittreksels uit die Lombards rugbystorie, was die volgende stukkie in “Africana”:

“Ek het senter gespeel en Syd Jackson skrumskakel in die skoolspan. Twee ander spelers wat ek nog goed kan onthou, is Faan Otto en Piet Zeeman.

“Oom Piet Fick was altyd ‘n rugby-geesdriftige, en van die vroeë twintigerjare af het hy van tyd tot tyd die spanne op die been gebring. Hyself, Josef Buchner en Snakes van Niekerk het o.a in een van die spanne gespeel, maar ligarugby het eers in 1932 gekom. Oom Piet neem al die jare die leiding in die organisering van rugby-aangeleenthede in Alberton.

“So om en by 1928-30 het ons onder mekaar gespeel op die Eeufeesparkie en die Springbok Floris Venter het ons gehelp.

“Eers in 1932 het die eerste behoorlike liga-rugbyklub op die been gekom (twintig jaar na die stigting in1912), met myself as voorsitter en mnr. Charles van Bergen as sekretaris. Voor ons kon inskryf vir die liga moes ons eers ‘n goedgekeurde veld toon. Ek het ‘n vragmotor geleen, gras aangery wat deur die rugby-unie geskenk is, en geplant nadat die veld (waar Dreyer meubelfabriek vandag staan), geploeg, geskrop en gelykgemaak was deur osse en implemente verskaf deur goeie Cornelius Meyer. My vader het vir ons die kleedkamers opgerig en behulpsaam gewees met die insit van die stortbaddens. Die klub het die materiaal verskaf.

“In 1934 het Pieter Moller (dis nou die broer van skrywer) sekretaris van die klub geword, en hy het ook dikwels as skeidsregter opgetree.

“In die eerste jaar van ons bestaan, het ons vir die derde liga ingeskryf en as oorwinnaars uitgetree, in die tweede en derde jare het ons in die tweede liga gespeel en in 1933 gelykop geeïndig saam met Wanderers op die punteleer.

“In 1934 het ons teen Melpark verloor en in die Liga derde uit vier spanne geeïndig. My swaer Eddie Honibal het ons span van truie voorsien. Eddie Hammond was die breier en en ek en Charles van Bergen het ook afgerig.”

Dit was die Alberton rugbystorie van die Lombards presies 80 jaar gelede. Lombardstraat in Raceview vandag is na die rugby Lombards vernoem en is dus hul nalatenskap, tesame met die opgetekende rugbyherinneringe, aan Alberton.

*Artikel uit navorsing deur Peet van Niekerk, met behulp van ‘n Albertongeskiedenis boeke-nalatenskap deur Oud-Springbok Theo Sauermann wat vanjaar oorlede is, nagelaat aan Alberton rugbygrote Hamer Engelbrecht en wat goedgunstiglik aan die REKORD beskikbaar gestel is.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button